Namibië (in wit) takel Italië vandag om 17:00 in die eerste van vier halfeindstryde. Foto www.worldskate.org
Namibië (in wit) takel Italië vandag om 17:00 in die eerste van vier halfeindstryde. Foto www.worldskate.org

Jongmanne vandag in kwarteindstryd

Inlynhokkie
Tielman Van Lill
Tsjeggië was gisteraand gelukkig om met ’n oorwinning (4-3) teen Namibië se nasionale junior manspan in hul vierde en laaste groep A-wedstryd in Buenos Aires, Argentinië, by die wêreldkampioenskap in inlynskaatshokkie te ontsnap.

Die rustydtelling (2-2) spreek van twee uitstekende gebalanseerde spanne wat ’n hewige stryd gevoer het om mekaar te uitoorlê. Vaclav Kominek het binne 11 sekondes toegeslaan vir Tsjeggië om 1-0 voor te loop. James de Jager het minder as ’n minuut later (1 minuut 05 sekondes) geantwoord om die telling te ewenaar.

Kominek het weereens sy vernuf bewys (10:43) toe hy met ’n solo-doel (2-1) toegeslaan het, maar Mickah Januarie het sy span nuwe hoop gegee toe hy die skyf weggebêre het (15:24) voordat rustyd planne gaan beraam is.

De Jager het Namibië se telling eerste in die tweede helfte (06:04) laat aanskuif om vir die eerste keer in die wedstryd met 3-2 voor te loop. Hul voorsprong het vyf minute geduur, voordat Adam Abazaj (11:06) Tsjeggië tot drie-elk terug in die prentjie geplaas het.

Met 19:26 verby op die stophorlosie, het Namibië vir ’n dinkskrum gevra, maar kon nie verhinder dat Jakub Kuchar in die laaste sekondes (19:36) deurgeglip het om ’n oorwinning te verseker nie.

Namibië pak Italië vandag (Donderdag, om 17:00 Namibiese tyd) in die eerste kwarteindstryd by die Parque Olímpico-arena, terwyl Chinese Taipei en Korea se kwarteindstryd om 18:00 sal begin.

In die derde kwarteindstryd ontmoet Tsjeggië vir Colombië (19:00), terwyl Frankryk en die VSA om 20:00 uitspeel vir ’n plek in die semifinaal.

Namibië het met ses ligapunte derde in groep A geëindig (gespeel 4, wen 2, doelverskil 14). Frankryk met 12 (wen 4, doelverskil 27) is eerste gevolg deur Tsjeggië met 9 (wen 3, doelverskil 5).

Korea met drie punte (een gewen, doelverskil -32) en Argentinië (0 punte, doelverskil -14) het onderskeidelik vierde en vyfde geëindig.

Groep B eindig so:

1 Chinese Taipei (11 punte, wen 3, doelverskil 12)

2 Italië (8, wen 2, doelverskil 1)

3 Colombia (4, wen 1, doelverskil -4)

4 VSA (4, wen 1, doelverskil - 1)

5 Brasilië (3, wen 1, doelverskil -8).

DIE KWARTEINDSTRYDE (Groep A tn Groep B)

(1) Frankryk tn (4) VSA

(2) Tsjeggië tn (3) Colombië

(3) Namibië tn (2) Italië

(4) Korea tn (1) Chinese Taipei

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer