Joshua boks dalk volgende teen onbekende Aussie

Boks
Michael Green
Die voormalige swaargewigbokskampioen van die wêreld Anthony Joshua wil skynbaar doodseker maak dat hy sy volgende geveg wen.

Die kans is glo goed dat sy volgende teenstander die relatief onbekende Demsey McKean van Australië kan wees.

“Ek is een van die gunstelinge om volgende teen Anthony Joshua te boks,” het die 32-jarige McKean Dinsdag aan Sky Sports gesê.

“Ek kan die man wees wat hom laat uittree en ek is baie seker dat ek dit sal regkry.”

McKean (1.98 meter lank, 110 kg) is een van Joshua se vorige skermmaats. Die Brit – wat in Desember 2020 laas ’n geveg kon wen, voor twee opeenvolgende punte-nederlae teen Oleksandr Usyk – ken hom dus baie goed.

Die Aussie bevind hom tans tiende op die Wêreldboksorganisasie (WBO) se ranglys en hy is 11de op die Internasionale Boksfederasie (IBF) s’n.

Hoe hy dit reggekry het, weet die nugter alleen, want hy het nog geen top-vegter in sy loopbaan verslaan nie.

McKean se promotor, Angelo Di Carlo, het aan Sky Sports bevestig dat hy en Joshua se promotor, Eddie Hearn, besig is om te onderhandel vir ’n geveg.

Daniel Dubois, wat Kevin Lerena einde verlede jaar uitgeslaan het, kan intussen dié jaar ’n groot tjek verwag sonder dat hy eens ’n hou hoef te slaan.

Usyk was veronderstel om sy Wêreldboksvereniging-titel (WBA) volgende teen Dubois te verdedig, maar die vegter van Oekraïne het besluit om eerder teen Tyson Fury in ’n unifikasie-geveg te boks.

Fury en Dubois word albei deur dieselfde promotor (Frank Warren) bestuur, so dis net logies dat Warren vir Dubois sal “ompraat” om eers terug te staan.

Hiervoor sal Dubois natuurlik ’n groot tjek kry (genoem “step-aside money”) en hy kan boonop in een van die voorgevegte boks wanneer Fury en Usyk mekaar die stryd aansê.

Daar was vroeër sprake dat die IBF Usyk sou dwing om teen Filip Hrgovic van Kroasië te boks.

Usyk is die WBO, WBA, IBF en Internasionale Boksorganisasie (IBO) se kampioen.

Boxing Scene berig egter dat die IBF intussen aanvaar het dat Dubois volgens ’n aanvaarde rotasiestelsel eintlik volgende Usyk se verpligte teenstander moet wees.

• Kyk hier na Demsey McKean se geveg verlede jaar teen Esteban Bracamonte:

www.youtube.com/embed/6DwIFePCYTA

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!