• Tuisblad
  • Sport
  • Kaapstad spog nou met ‘major’ in ultraveldwedlope

Kaapstad spog nou met ‘major’ in ultraveldwedlope

Avontuursport
Die 2023 Kaapstad-ultraveldwedlope vind oor vyf afstande op Tafelberg-roetes en in die Skiereiland plaas.
Annchen Nel
Die vinnig groeiende sport ultraveldwedlope het Maandag sy eie nuwe, groot sambreelorganisasie gekry.

Daar is Grand Slam-toernooie, oftewel majors, in gholf en tennis en nou het ultra-langasems wêreldwyd die World Trail Majors.

In ’n groot hupstoot vir Kaapstad se sportbyeenkomste en sy toerisme, sal die Kaapstadse ultraveldwedloop einde volgende jaar ook deel daarvan wees.

Die nuwe vereniging sal organiseerders van groot byeenkomste in staat stel om kennis te deel en die sport in die regte rigting te stuur.

Veld-, berg- en ultraveldwedlope vind plaas in die buitelug, met eenvoudige reëls en vry van die beperkinge wat talle sporte het, lui ’n verklaring.

Die World Trail Majors sal plaaslike gemeenskappe en ekonomieë betrek en respekteer, maar die wedlope moet ’n geringe invloed op die natuur hê.

Die oorspronklike waardes van die sport moet behou word, lui die verklaring.

Vanjaar se Kaapstad-ultraveldwedlope vind volgende naweek op Tafelberg-roetes en in die Skiereiland oor vyf afstande plaas – 23, 35, 55, 100 en 166 km (100 myl).

Die byeenkoms lok jaarliks beroeps- en amateuratlete van Frankryk, Duitsland, Italië, Brittanje en Amerika.

Die wedloop oor 166 km strek tot by Simonstad en terug na die stad via Houtbaai, Chapmanspiek, Constantia, die Nuweland-woud en dan na die eindpunt in Oranjezicht.

Die ultrawedloop het nou ’n afsnypunt van 24 uur om dit toegankliker vir amateurs te maak.

Van ’n klein begin neem sowat 2 300 atlete deesdae aan die vyf wedlope deel.

Die Griek Fotis Zisimopoulos was verlede jaar uit die staanspoor onstuitbaar en het die 166 km-wedloop in 20 uur, 48 minute en 17 sekondes gewen.

Die vrouewenner was die Amerikaner Hillary Allen in 24:55:22. Die Kapenaar Kerry-Ann Marshall, wat tweede was, sal vanjaar die 100 km pak.

Ryan Sandes, ’n bekende in plaaslike veldwedloopkringe, sal ná ’n lang afwesigheid weer vir die 100 km aantree. Hy moes in 2018 die handdoek ingooi. Sandes was in 2017 die naaswenner.

2024 SE WORLD TRAIL MAJORS

Hongkong, 102 km, 5 314 m klimwerk, Januarie.

Black Canyon Ultras, 100 km, +1 250 m, Februarie, Phoenix, Arizona.

North Face Transgrancanaria, 126 km, +6 804 m, Februarie, Kanariese eilande, Spanje.

Berg Foedji, 165 km, +7 574 m, April, Foejijosjida, Japan.

Madeira-eilande Ultra-trail, 115 km, +7 100 m, April, Madeira, Portugal.

Swiss Canyon Trail, 111 km, +5 350 m, Junie, Val de Travers, Switserland.

South Downs Way, 161 km, +3 800 m, Junie, Winchester, Engeland.

Quebec Mega Trail, 160 km, +6 500 m, Julie, Quebec, Kanada.

Ultra Trail Kaapstad, 166 km, +7 516 m, November, Kaapstad.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer