Kampioene mik vir skaakmat in Egipte

Tanja Bause
Die huidige Namibiese nasionale skaakkampioene, Jolly-Joice Nepando en Heskiel Ndahangwapo (23), is tans in Egipte om aan die

Afrika Individuele Skaakkampioenskappe deel te neem.

Goodwill Khoa (33), die president van die Namibië Skaakfederasie en ook ’n deelnemer aan die kampioenskappe – wat tot 14 Mei gehou word – het hulle vergesel.

HESKIEL

Heskiel het op 15-jarige ouderdom begin skaak speel.

“Ek het ’n groep vriende by die skool sien speel. Ek het nie baie daarvan gedink nie en biblioteek toe gegaan. Daar het ek op ’n skaakbord afgekom en ek en ’n vriend het besluit om te speel. Ons het ons eie reëls opgemaak. Ek het toe op die rekenaar gaan opsoek oor skaak en hoe om dit te speel.”

Hy het homself geleer en begin om teen ander leerlinge te speel. Kort daarna het hy almal in die skool en in die Oshanastreek geklop.

“Ek kon nie klasse bekostig nie en het by my mentor – wat ’n skaakklub gehad het – uitgehang. Hy het my daar laat speel. Soms het ek tot tien keer gespeel en elke keer verloor. In die aande het ek die spel ontleed en uit my foute geleer. Die volgende dag het ek teruggegaan en weer en weer gespeel. Ek het boeke oor skaak op die rekenaar begin lees en ook op verskeie webblaaie.”

Hy het toe Unam toe gegaan en aan sy eerste nasionale skaakkampioenskap deelgeneem. Dit was sy eerste bekendstelling aan die plaaslike skaakgemeenskap.

Verlede jaar was hy deel van die span wat aan die Fide Skaak Olimpiade in Indië deelgeneem het.

“Ek het sewe van my nege rondtes gewen en dit was die hoogtepunt in my lewe. Dit was ook die eerste keer dat ek oorsee was.”

Tydens die olimpiade het Heskiel ook sy voorlopige Fide-meesterstitel ontvang.

“Die titel is voorlopig omdat hy nog nie genoeg ondervinding opgedoen het nie. Hy moet sover moontlik na elke internasionale toernooi toe gaan om die ondervinding op te doen sodat die titel op papier gesit kan word. Met die titel is Heskiel basies drie stappe van ’n grootmeesterstitel af,” het Goodwill gesê.

GOODWILL

Hy het in graad 10 begin skaak speel.

“Ek het die rekenaaronderwyser in sy klas gehelp en toevallig op ’n CD oor skaak afgekom. Ek het gedink dit is soos die speletjie wat ek op die televisie sien en begin om myself te leer speel. Skaak is nie net ’n sport nie, dit bevat belangrike oplossings, baie goed wat jy in jou daaglikse lewe kan toepas en wat ek op my en my familie se lewens toepas. Jy moet altyd vooruit beplan, jy moet ’n strategie hê en jy moet altyd twee tree vooruit wees.”

Goodwill het reeds meer as tien lande weens skaak besoek.

“Ek het Indië verlede jaar vir die eerste keer besoek. Ek sê vir almal dat skaak my toegelaat het om na die toekoms te kon reis, omdat Indië tydsgewys voor ons is.”

Volgens Goodwill is skaak ’n individuele sport wat van jou eie prestasies en vermoëns afhanklik is.

“Dis ’n regverdige sport, want wat jy insit, is wat jy uitkry.”

Hy is ’n onderwyser wat skaak in meer skole wil sien.

“Kinders van vandag kan nie meer vir lank stilsit en konsentreer nie. Skaak leer jou om vir ure op ’n probleem voor jou te fokus en ’n oplossing te vind. Kinders en jongmense kan net daarby baat om skaak te speel.”

JOLLY-JOICE

Sy het op 11-jarige ouderdom op skool van skaak gehoor en begin speel.

In 2017 het sy saam met Lishen Mentile, ’n vroue-kandidaatmeester (WCM), die Fianchetto Chess Academy begin.

“My langtermyndoel is om die nommer 1-vroueskaakspeler in Afrika te word.”

Sy rig ook skaak af en gebruik gebaretaal vir gehoorgestremde leerlinge.

“Ek het by die Universiteit van Namibië geleer hoe om gebaretaal te praat. Ek het gevoel dit is belangrik om gebaretaal aan te leer, want ek glo in inklusiwiteit en om seker te maak dat almal die geleentheid het om skaak te leer en uit te blink.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!