Kenia onkeerbaar in Harare
Sewesrugby
Namibië, met ontwrigte voorbereiding weens beserings en ander faktore, se span het grootliks van verlede jaar se Afrika-toernooi in Uganda verskil.
Kenia het Suid-Afrika se Blitsbokke met 17-12 in die eindstryd van die Afrika-sewesrugbykampioenskap in Harare geskok en sodoende vir die 2024 Olimpiese Spele in Parys gekwalifiseer. Die Kenia-span, met die bynaam Shujaa, was die naweek op die oorlogspad nadat hulle ’n tyd gelede hul gebruiklike status as een van die kernspanne van die HSBC Wêreldsewesreeks verloor het. Suid-Afrika, wat ’n sterk en ervare span met name soos Rosko Specman, Justin Geduld, Ryan Oosthuizen, Selvyn Davids, Zain Davids en Impi Visser as kaptein in die veld gestoot het, sal nou ’n potensieel moeiliker finale kwalifiserende toernooi vir ’n enkele posisie teen gedugte spanne van ander vastelande moet oorleef indien hy by die Spele in Parys verteenwoordig wil wees. Die krag en vaart van hul vleuel Patrick Odongo was een van verskeie wapens in die Kenia-span, wat deur Vincent Onyala aangevoer is. Uganda het die bronsfinaal met 24-12 teen die gasheer Zimbabwe gewen. Beide dié lande was in September by die Wêreldbeker-sewestoernooi in Kaapstad betrokke. Zambië het die vyfde plek verseker deur sy uitspeelwedstryd teen Burkina Faso met 33-26 te beklink. In die stryd om die sewende plek was Madagaskar met 43-17 te sterk vir Nigerië. NAMIBIË Ondanks beter vertonings met tye gister op dag twee, het Namibië Saterdag al drie sy groepwedstryde verloor en het dus nie die kwarteindrondte gehaal nie. Die Namibiërs onder afrigterskap van David Philander het hul openingswedstryd teen Zambië met 12-22 verloor (twee drieë deur Johan Luttig), voordat Kenia hulle met 51-0 geboelie het. In wedstryd 3 het Franklin Karigub, Elmarco Beukes en Shareave Titus drieë gedruk, maar Nigerië het steeds met 22-19 die knoop deurgehaak. Gisteroggend was Ivoorkus volgende en Darius von Solms, Danie van der Merwe en Johan Luttig het drieë gedruk in ’n spannende oorwinning met 24-22 (rustyd 12-10). Die uitspeelwedstryd vir die negende posisie teen Tunisië was rustyd met 7-7 gelykop, voordat die Noord-Afrikane met die laaste beweging ’n drie gaan druk het om met 19-14 te wen. Vir Namibië het Johan Luttig en Shareave Titus drieë gaan druk. Namibië, met ontwrigte voorbereiding weens beserings en ander faktore, se span was onder die kapteinskap van Reinold Benade en het grootliks van verlede jaar se Afrika-toernooi in Uganda verskil, wat deur die gasheerspan gewen was.
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie