• Tuisblad
  • Sport
  • Keniaan nael 100 in 9.78 in Gaborone, maar wind te sterk
Die Keniaan Ferdinand Omanyala vroeër vandeesmaand in Germiston in aksie. Foto Gallo Images
Die Keniaan Ferdinand Omanyala vroeër vandeesmaand in Germiston in aksie. Foto Gallo Images

Keniaan nael 100 in 9.78 in Gaborone, maar wind te sterk

Atletiek
Sarel van der Walt
Die Keniaan Ferdinand Omanyala, die Statebondspele-kampioen in die 100 m vir mans, het dié item Saterdag op Wêreldatletiek se Goue Grand Prix-byeenkoms in Gaborone, Botswana, in die vinnigste tyd vanjaar in die wêreld gewen.

Ongelukkig sal sy blitstyd van 9.78 sekondes op ’n warm herfsdag voor sowat 15 000 toeskouers op die eerste Goue Grand Prix in Suider-Afrika nie erken kan word nie.

Volgens die uitslae het ’n wind van 2.3 meter per sekonde van agter gewaai.

Die toelaatbare sterkte is 2 m/s.

Tog was daar mense in die stadion wat sê dis vreemd dat die windlesing so sterk is, want dit was volgens hulle windstil in die stadion.

Botswana se Letsile Tebogo, die o.20-wêreldkampioen, was tweede in 9.91.

Die 27-jarige Omanyala (beste tyd: 9.77) kon dalk nog vinniger gehardloop het, as hy nie minstens twee keer oor sy skouer geloer het om te sien waar Tebogo is nie. Dit het in ’n stadium ook gelyk of hy uit sy baan getrap het.

Omanyala kon vandeesmaand in twee Grand Prix-byeenkomste in Gauteng nie een keer vinniger as 10 sekondes nael nie.

Suid-Afrika se Akani Simbine, ook een van die vinnigste atlete ter wêreld, het nie in Gaborone deelgeneem nie.

In die B-wedloop was die belowende jong Suid-Afrikaner Benjamin Richardson tweede in 10.15. Imeta Samwel, Omanyala se landgenoot, het gewen in 10.10 (wind: 0.2).

Tebogo het later in die 200 gewen in 19.87 (wind: 0.3), die vinnigste vanjaar in die wêreld. Die Kanadees Andre de Grasse was sewende in 20.41 in sy eerste wedloop van die jaar.

VROUE 200

In die 200 vir vroue het die Amerikaner Kaula White (22.38, wind:-0.5) gewen, met haar landgenoot Sha’Carri Richardson tweede in 22.54.

Die ander groot hoogtepunt was die spogtyd van 43.91 waarmee die Zambiër Muzala Samukonga die 400 vir mans – ook die vinnigste vanjaar in die wêreld gewen het.

Dit is die 17de beste tyd in die geskiedenis.

Samukonga het so hard gehardloop dat hy met ’n draagbaar van die baan gedra is.

Granada se Kirani James, die Olimpiese kampioen van 2012, was tweede in 44.76.

Suid-Afrika se Lyth Pillay, junior wêreldkampioen wat tweede was ná Wayde van Niekerk op die SA kampioenskappe in Potchefstroom, moes met die vierde plek en ’n tyd van 45.07 tevrede wees.

• In die 400 vir vroue het die Keniaan Mary Moraa gewen in ’n haastige tyd van 50.43 (’n Kenia-rekord) nadat die wegspring vir ’n paar minute vertraag is. Sy was die enigste atleet wat die kwalifiserende maatstaf vir vanjaar se wêreldkampioenskap in Hongarye oortref het.

Miranda Coetzee, die Suid-Afrikaanse kampioen, was tweede in 51.13 nadat sy oor die laaste 150 m sterk begin deurkom het.

Jamaika se Candice MacLeod was derde in 51.17 en Zenéy van der Walt, Statebondspele-kampioen in die 400-hekkies, vierde nadat sy oor die eerste 200 die krane oopgedraai en voor Coetzee was.

Marlie Viljoen, wat onlangs in Germiston ’n beste tyd van 51.81 aangeteken het, was vyfde in 52.20.

MANS 400 HEKKIES

In die 400-hekkies vir mans was die Amerikaner Trevor Bassit oor die laaste sowat 50 m te sterk vir sy teenstanders. Sy wentyd van 48.22 is sy beste vir die seisoen.

Tunisië se Mohamad Amine Touati was tweede in 48.57, met die Keniaan Wiseman Were Mukhobe derde in 49.28.

Die Suid-Afrikaanse kampioen, Sokwakhana Zazini, die o.20-wêreldkampioen, wat sê hy het LJ van Zyl se SA rekord (47,66) in die oog, het nie goed gehardloop nie en moes met ’n tyd van 51.99 tevrede wees.

Die Amerikaner Twanisha Terry het die 100 vir vroue in 11.05 (wind: 0.4) gewen.

In die 800 vir vroue het die Ethiopiër Habitam Alemu gewen in 1:59.35, met Suid-Afrika se Prudence Sekgodiso (2:00.39) die naaswenner. Die Pretorianer Charné Swart was sesde in 2:03.41 – net-net stadiger as haar beste van 2:03.28.

In die gewigstoot vir mans het die Italianer Fabbri Leonardo gewen danksy ’n beste poging van 21.32. Suid-Afrika se Kyle Blignaut (19.80) was vyfde.

Die verspring vir vroue is deur Nigerië se Brume Ese gewen danksy haar sesde en laaste sprong van 6.77 (wind: 0.6). Die Potchefstroomse aptekerstudent Karmen Fouché (6.43 - wind: 1.5) was sewende.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!