• Tuisblad
  • Sport
  • Kitshoff: ’n Grote onder die grootste Stormers groet
Steven Kitshoff, kaptein van die Stormers, groet die Westelike Provinsie ná Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap-eindstryd teen Munster in die DHL-stadion. Foto Gallo Images
Steven Kitshoff, kaptein van die Stormers, groet die Westelike Provinsie ná Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap-eindstryd teen Munster in die DHL-stadion. Foto Gallo Images

Kitshoff: ’n Grote onder die grootste Stormers groet

Rugby
Stephen Nell
En die grootste Stormer nóg is . . .

Hieroor kan daar dalk debat gevoer word, maar een van die voorste kandidate, Steven Kitshoff, groet die Kaapse franchise Saterdag vir eers in die Verenigde Rugbykampioenskap-eindstryd teen Munster in die DHL-stadion.

Dit sal die 31-jarige Kitshoff se 138ste wedstryd vir die Stormers wees. Ná vanjaar se Wêreldbeker-toernooi sluit hy hom by die Ierse span Ulster aan, maar die Westelike Provinsie het reeds met hom gesprekke geopen oor ’n moontlike terugkeer ná twee seisoene in Noord-Ierland.

Weens die aannames wat soms gemaak word, is dit nou al Kitshoff se derde “vaarwel” by die DHL-stadion. Toe die Stormers die tweede plek op die puntelys aan Ulster prysgee ná hul tuisnederlaag teen Munster, is wyd geglo dat die kwarteindstryd teen die Bulle sy laaste op sy tuisveld sal wees. Maar toe gaan klop Connacht vir Ulster. Toe was al wat kenner is oortuig dat die Stormers hul titel teen Leinster in Dublin sou moes verdedig. En toe klop Munster vir Leinster. Vir ’n verandering hierdie seisoen is die geluksgodin aan die Stormers se kant.

Maar hierdie keer is dit vir Kitshoff regtig vaarwel – in ’n Stormers-trui en op sy tuisveld. Wen die Stormers Saterdag, sal dit die sprokie wees wat hul kaptein verdien. Indien nie, sal dit nie afbreuk aan sy grootheid doen nie.

“Die sterre het nou vir ons (die Stormers) belyn om nóg ’n vaarwel tuis te hê,” sê Kitshoff met ’n lag.

“Alles gaan oor die rugby. Om ons dinge agter mekaar te kry, te verstaan presies wat Munster gaan bring en om ten volle op daardie 80 minute van die eindstryd te fokus. Daar sal ná die tyd beslis emosie wees, maar nou sal die span en bestuur se fokus 100% op die wedstryd wees.”

Munster sal met die sielkundige voordeel kom dat hy verlede maand die eerste span sedert die Leeus in Desember 2021 was wat die Stormers in die DHL-stadion geklop het.

Vir die Stormers was die les uit daardie nederlaag van 24-26 dat jy jou kanse moet benut. Hulle het meer geleenthede as Munster gehad, maar kon dit in die aangesig van toegewyde verdediging nie in punte omskep nie.

“As ek terugdink, het ons stadig begin. Hulle het ’n paar vinnige drieë gedruk. Ons het terugbaklei en was op ’n kol voor, maar het nie ons geleenthede gebruik nie,” sê Kitshoff.

“Daar was baie geleenthede, maar Munster se verdediging was ook uitstekend. Hulle het ons onder druk geplaas. In eindstryde kom dit daarop neer om daardie groot oomblikke te benut, soos ons diep in ons wedstryd teen Connacht gedoen het. Daardie wedstryd was tot in die 75ste minuut in die weegskaal en toe druk ons twee mooi drieë. Die span wie se uitvoering die beste is wanneer hy sy geleenthede kry, sal met die trofee wegstap.”

In hul halfeindstryd-oorwinning van 43-25 oor Connacht het die Stormers ses drieë gedruk en dis onwaarskynlik dat hulle Munster se doellyn met soveel gemak sal oorsteek.

“In ’n eindstryd maak klein dingetjies ’n verskil, so jy moet in die kol wees – in terme van jou uitvoering en hoe jy by die plan hou,” sê Kitshoff.

• Albei spanne word Vrydag aangekondig.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer