• Tuisblad
  • Sport
  • Klasaksie oor breinbeserings in rugby begin Desember

Klasaksie oor breinbeserings in rugby begin Desember

Rugby
Byna 300 voormalige beroepsrugbyspelers en selfs amateurs, wat aanvoer die spel het hulle met breinbeserings gelaat wat hul lewe onherroeplik verander het, sal volgende maand amptelik hul groepsgeding in die hooggeregshof in Londen begin.

Die oudhaker en Engelse Wêreldbeker-wenner Steve Thompson tel onder die 268 spelers wat beweer hulle ly aan onder meer demensie en depressie, vanweë herhaaldelike houe teen die kop in hulle speeldae.

Daar sal dié week, luidens ’n eksklusiewe berig in die Britse Sunday Times, nog 26 oudspelers wees wat hul name by die geding teen Wêreldrugby, die Engelse Rugbyunie (RFU) en die Walliese Rugbyunie (WRU) gaan voeg.

Die saak is op die hooggeregshof se rol om op 1 Desember aangehoor te word.

Dié groep se regspan hou voet by stuk die drie beheerliggame het nie hul verantwoordelikheid nagekom om na die spelers se welstand om te sien nie.

Volgens inligting wat aan die hof voorgelê sal word, het talle spelers nie die regte mediese sorg gekry toe hulle in wedstryde beseer is nie of hulle is gedruk om weer te begin speel terwyl hul nog nie ten volle herstel het nie.

“Daar was regdeur die sport ’n kultuur van spelers wat met breinbeserings gespeel het,” word in ’n dokument aangevoer.

Onder die eisers is drie Wêreldbeker-wenners, 14 spelers wat vir Engeland gespeel het, 47 spelers van Wallis, vier van Ierland en ses van Skotland.

Altesame 13 van die spelers het vir die Britse en Ierse Leeus gespeel en daar is ook spelers wat Nieu-Seeland, Samoa, Roemenië en Kanada verteenwoordig het.

Een van die eisers is Michael Lipman (43), wat tien keer vir Engeland uitgedraf het tussen 2004 en 2008.

Lipman het, volgens ’n neuroloog se verslag, “minstens vyf keer sy bewussyn gedurende ’n wedstryd verloor, wat voldoende is om te klassifiseer dat (Lipman) traumatiese breinskade opgedoen het”.

Hy sukkel glo deesdae met erge hoofpyne, vertigo, moegheid en is klanksensitief.

In ’n verslag oor die 47-jarige Neil Spence, wat in sy loopbaan vir die Leicester Tigers, Gloucester en verskeie ander klubs gespeel het, word beweer hy het langtermynbreinkomplikasies opgedoen.

“Dis my mening dat mnr. Spence op die oorwig van waarskynlikhede aan vroeë neurodegenerasie ly, vermoedelik chroniese traumatiese ensefalopatie (CTE).

“CTE is ’n progressiewe breinsiekte wat deur herhaaldelike kopbeserings veroorsaak word, wat lei tot demensie en uiteindelik die dood,” lui Spence se neurologiese verslag.

Dr. Steven Allder, ’n neuroloog wat baie van die spelers gediagnoseer het, skryf in ’n verslag wat deel van die groep se hofdokumente is dat sommige eisers se breinskade hul lewensverwagting met tot 13 jaar verminder het.

– Sunday Times, Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!