Gerhard Erasmus (links) ontvang sy spogtrofee van Trevor Britten. Foto Cricket Namibia Facebook
Gerhard Erasmus (links) ontvang sy spogtrofee van Trevor Britten. Foto Cricket Namibia Facebook

KN druk stempel af in Afrika

Krieket
Krieket Namibië is as die Afrika-wenner in drie kategorieë van die Internasionale Krieketraad (ICC) se jaarlikse ontwikkelingstoekennings vir 2022 aangewys.

Ander kategoriewenners vir Afrika is die krieketverenigings van Rwanda, Uganda en Nigerië.

Behalwe vir KN se prestasies, is die Namibiese kaptein ook onlangs opnuut vereer.

Gerhard Erasmus, die Eagles-kaptein, is ná die onlangse sesnasiereeks in Windhoek teen die VSA, die Emirate, Papoea-Nieu-Guinee, Kanada en Jersey as die topspeler van die toernooi aangewys. Erasmus het 281 lopies en ses paaltjies in sy vyf wedstryde bewerkstellig, hoewel Namibië uitgeskakel is in die wedloop om kwalifisering vir die Wêreldbeker in die eendagformaat.

Johan Muller, hoofbeampte van Krieket Namibië, het op dié beheerliggaam se Facebook-blad geskryf: “Namibië is die streekwenners op die Afrika-vasteland in drie kategorieë. ’n Wonderlike prestasie! Baie geluk aan al ons programleiers en baie dankie aan al ons betrokke korporatiewe borge!”

Die ICC-ontwikkelingstoekennings wat sedert 2002 gehou word, vereer baanbrekerprojekte en -programme wat deur die ICC se assosiaatlede uitgevoer word om krieket in ontwikkelende lande te laat blom.

Die 2022-toekennings strek oor ses kategorieë en na ’n jaar van uitsonderlike innovasie en groei, is 23 lidlande as streekwenners erken. Van sosiale impakprogramme in Bhoetan en Brasilië tot toonaangewende deelnameprogramme in Indonesië en Serwië het die oog gevang. Prestasies op die veld in internasionale kompetisie is ook in ag geneem.

Die streekwenners kom in aanmerking vir die ICC se wêreldwye toekennings, waar die wenners deur ’n paneel bestaande uit krieketlegendes soos Graeme Smith, Mel Jones en Stafanie Taylor asook volle lede van die ICC, sy vennote en die media aangewys word.

Die streekwenners in elke afdeling is soos volg:

ICC ONTWIKKELINGSINISIATIEF

Afrika: Krieket Namibië / Suid-Amerika: Peru / Asië: Hongkong / Oos-Asië en Pasifiese streek: Indonesië / Europa: Serwië.

BESTE VERTONING DEUR ’N ASSOSIAATMANSPAN

Afrika: Krieket Namibië / Asië: Verenigde Arabiese Emirate / Oos-Asië en Pasifiese streek: Japan / Europa: Nederland.

BESTE VERTONING DEUR ’N ASSOSIAATVROUESPAN

Afrika: Rwanda / Suid-Amerika: Argentinië / Asië: Thailand / Oos-Asië en Pasifiese streek: Indonesië / Europa: Skotland.

KRIEKET VIR ’N GOEIE DOEL, SOSIALE IMPAK INISIATIEF

Afrika: Krieket Namibië /Suid-Amerika: Brasilië / Asië: Bhoetan / Oos-Asië en Pasifiese streek: Fidji / Europa: Kroasië.

BESTE DIGITALE AANHANGERBETROKKENHEID

Afrika: Uganda / Asië: Bahrein / OAP: Japan / Europa: Finland.

BESTE VROUEKRIEKET-INISIATIEF

Afrika: Nigerië / Asië: Nepal / Oos-Asië en Pasifiese streek: Papoea-Nieu-Guinee / Europa: Roemenië.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer