Luka Cindano, flank en kaptein van Samsnung WHS, gaan op loop in Saterdag se Standard Bank o.19 premierliga-wedstryd teen PSG Pro-Ed Akademie. Foto Floris van Schouwenburg
Luka Cindano, flank en kaptein van Samsnung WHS, gaan op loop in Saterdag se Standard Bank o.19 premierliga-wedstryd teen PSG Pro-Ed Akademie. Foto Floris van Schouwenburg

Koedoebulle bewerk die oorhand teen Pro-Ed

Skolerugby
Die Swakopmunders was rustyd nog voor, maar daarna het WHS aan die gang gekom.
Andrew Poolman
Samsung Windhoek Hoërskool is uit die blokke in die Standard Bank NSSR o.19 premierliga met sy eerste oorwinning, in sy openingswedstryd afgelope Saterdag in die FNB Vegkopstadion teen PSG Pro-Ed Akademie.

Met sewe drieë teen twee het WHS se Koedoebulle die oorwinning met 39-15 verseker en dus volpunte ingepalm.

Jan Dames, hulpafrigter van WHS saam met Ainsley Daniels, sê dit was ’n fisieke wedstryd teen ’n hoë tempo wat in werklikheid meer gelykop verloop het as wat die telling aandui.

“WHS het met sy sterker voorspelers vir Pro-Ed voorlangs aangevat voor ons die bal wyd versprei het. Pro-Ed het in die eerste helfte daarin geslaag om van ons foute uit te buit en ook druk ons te plaas. ’n Onderskepping het hulle sewe punte op die bord gegee en daarna het hulle ’n goeie drie geskep om rustyd met 15-10 voor te loop.

“Ná rustyd het die Koedoebulle met samespel tussen voor- en agterspelers die drieë opgestapel. Met goeie druk het ons ook verhinder dat Pro-Ed weer enige ritme kon herwin.

“Die telling weerspieël egter min van die taai stryd en Pro-Ed was met tye ook ongelukkig teen die meer ervare span van WHS wat enige kans tot hul voordeel gebruik het. Die wedstryd is deurgaans in goeie sportmangees beslis.”

Vir WHS het sy flank en kaptein Luka Cindano en linkervleuel William Beukes elkeen twee drieë gedruk, tesame met een elk deur Jayden van Zyl (vaskopstut), regtervleuel Sammy Soobramoney en die plaasvervanger-vleuel Jurgen Meyer.

Doelskoppe deur senter Davito van Wyk (2) en William Beukes het ook die telling hoër gedruk. Een WHS-speler het ’n geel kaart gekry, naamlik die flank McHenry Kambatuku.

Pro-Ed se hoofafrigter, Thys Saunders, sê: “Ons driedrukkers was Jivaldo Pienaar (slot) en Shaheem Kharugab (flank), terwyl die skrumskakel Waldo Human een keer verdoel en ’n strafskop oorgeskoop het. Jivaldo het so in die laaste tien minute ’n geel kaart gekry.

“Daar was so 30 minute in die eerste helfte waarin ons goed gespeel het en dus rustyd met 15-10 voorgeloop het, maar WHS het ’n veel beter tweede helfte gehad waartydens ons duikvatte begin mis het en ook nie in die regte posisies op die veld die speelwerk gedoen het nie.

“Maar gelukkig was dit nog net ons eerste wedstryd. Ons sal hard werk en beter terugkom vir ons volgende een.”

WHS se tweede span het vroeër met 39-28 teen Dr. Lemmer se eerste span gewen, terwyl WHS se o.15’s met 24-19 teen Pro-Ed die knoop deurgehaak het.

• Net een o.19 premierliga-wedstryd wat vroeër met twee naweke uitgestel is, word komende Saterdag gespeel.

Outjo se OK Foods Moria Bere sal op hul tuisveld vir Privaatskool Elnatan inwag (afskoptyd 10:00). Die span van Stampriet het reeds een wedstryd twee Vrydagaande gelede agter die blad waarin hulle met 12-19 deur Compack Tsumeb Gimnasium geklop is toe die spanne mekaar op Walvisbaai ontmoet het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!