Koelkoppe kom kort in o.20-uitskakeling

Rugby
Namibië se onlangse droogte om op o.20-vlak die trappie hoër te klim, duur vir nog 'n jaar voort.
Andrew Poolman
Namibië se eens trotse geskiedenis van oorheersing teen Kenia op die rugbyveld is opnuut ’n knou toegedien met gister se senuweeagtige nederlaag teen die gasheerspan in die halfeindstryd van die 2023 Rugby Afrika Onder 20 Barthés-bekertoernooi.

Kenia se oorwinning met 24-13 bring die tydsduur op vyf jaar te staan vandat Namibië die kontinentale toernooi in 2018 laas gewen het. Sedertdien het Covid-19 twee jare se toernooie uitgewis, maar Namibië het ook twee eindstryde (2023 teen Zimbabwe en 2019 teen Kenia) verloor.

Niks meer as verlore eer is meer op die spel in komende Sondag se bronsfinaal teen Tunisië nie en die Namibiërs is opnuut uitgeskakel van moontlike deelname aan die Wêreldrugby Onder 20 Trofee-toernooi – ’n heelwat hoër vlak van kompetisie waar Namibië vanaf 2013 tot 2018 onafgebroke deelgeneem en drie kere in die vierde posisie uit agt lande geëindig het.

Goeie vertoning in die Wêreldrugby-toernooi was vir vele van die huidige o.20’s se voorgangers die afspringplek om selfs binne enkele maande later hul eerste blootstelling in toetsrugby te kry en selfs Wêreldbekerspanne te haal.

Gister het individuele foute die Namibiërs duur te staan gekom toe Kenia hulle in die semifinaal uitgeskakel het. Dit is nie onmoontlik dat sommige spelers se loopbaanvordering hierdie terugslag kan oorleef nie, maar vandeesweek se twee vertonings (ook ’n sukkelsege teen Zambië) het betreklik min van hulle se aandele betekenisvol laat styg.

Koelkop leierskap in die sleutelposisies sou vir die onder 20’s goud werd gewees het toe sake gister toenemend spannend begin verloop het.

Namibië was ná 15 minute eerste op die telbord met ’n strafdoel deur losskakel Ethan Koopman, terwyl die Keniaanse skopper met twee pogings in die eerste helfte misluk het.

Kenia het vir lang tye groot druk op die doellyn toegepas en die Namibiërs het manmoedig verdedig, totdat speeltyd in die eerste helfte bykans vertreke was en die Keniaanse losskakel by sy direkte teenstander Koopman verby geglip het om onder die pale te druk en Kenia met 7-3 voor te plaas.

Binne die eerste minuut ná rustyd het linkervleuel Manfred Garoeb ’n fratsdrie gaan druk deur ’n lugskop teen die kantlyn te vang, die eerste man te systap en op ’n lopie te gaan. Sy skop vir homself het reg gewip en nadat hy die bal so byna aangeslaan het, het hy beheer gekry om vir die drie oor te val, wat Koopman verdoel het (10-7).

Ná 46 minute was Kenia terug op die aanval en hul binnesenter het opnuut in die 10-kanaal deurgebars vir hul voorsprong met 14-10.

Die losskakels het strafdoele uitgeruil en hoewel Namibië aanvanklik net-net daarin geslaag het om nog ’n Keniaanse drie af te weer, het die tuisspan ná 58 minute opnuut sewe punte bygevoeg ná doelgerigte fasespel.

Verskeie geleenthede om hulself terug in die prentjie te plaas, het hierna uit die Namibiërs se vingers geglip.

Namibië se beginspan gister was: 1 Johan Brockmann, 2 Wickus Karsten, 3 Herman Coetzee, 4 Nguvitja Tjaronda, 5 Thehard Lintvelt, 6 Kistings Minyoi, 7 Ray-Eez Feris, 8 Joe Losper (kaptein), 9 Armand Kotze, 10 Ethan Koopman, 11 Manfred Garoeb, 12 Owen Hawanga, 13 Natie Janse van Rensburg, 14 Divan Steyn, 15 William Klazen.

Die reserwebank was Edward Drotsky, Hanno Husselman, Iyambo Tshuuya, Mathew Quinn, S.G. Maritz, Enrique Husselmann, Keanan Januarie, Nico Tromp.

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!