Kolskoot met skepskop: Ontmoet die wenner

Rugby
Andrew Poolman
Ná die magtige dreuning van die skare wat hy twee Saterdae gelede in die stampvol Hage Geingob-stadion veroorsaak het, het die 24-jarige Henry Venter van Windhoek Vrydag amptelik sy wenprys in ontvangs geneem.

Voor meer as 7 000 ooggetuies was Venter een van die tien toeskouers wat in ’n gelukstrekking geïdentifiseer is om tydens rustyd van die rugbywedstryd tussen die Blou Bulle en die Welwitschias aan ’n skepskopkompetisie deel te neem, waarin die eerste gelukkige treffer met ’n splinternuwe Nissan Magnite kon wegstap.

Venter, nommer sewe, het sy kans gekry nadat die eerste ses persone reeds met hul probeerslae misluk en die skare laat sug het.

Die video van sy puik skepskop van die toegekende kol – skuins van regs af, net buite die kwartlyn – het reeds op sosiale media tot in Suid-Afrika opslae gemaak.

Mnr. Paul Oosthuizen van Officeconomix, hooforganiseerder van die wedstryd en van die idee van die skepskopkompetisie, het al die rolspelers Vrydag vir die amptelike oorhandiging genooi.

Een van hulle was Jannie de Beer, die uitgetrede Springbok-losskakel en nou Windhoek Gimnasium se direkteur van rugby, wie se naam in die rugbygeskiedenis sal voortleef vir sy rekordvertoning van 1999 toe hy met vyf skepdoele in die Wêreldbeker-kwarteindstryd vir Engeland bykans manalleen gesink het. De Beer het onder meer bygedra om die spesifieke kol te help uitwys van waar die skepskoppers pale toe moes mik.

Die jong Venter het by die oorhandiging vertel hoe hy die oggend nie juis van plan was om die Bulle-wedstryd in Windhoek te gaan kyk nie, en hoe sy vriend hom omgepraat het om by die toegangshek wel die wilde kans te waag om te registreer en hul name vir die skepskopkompetisie in die hoed te plaas.

“Ek het ook nie dadelik die antwoord van die kompetisievraag geweet nie en moes dit eers gou google – hoeveel skepskoppe Jannie de Beer in die 1999 WB-wedstryd teen Engeland oorgeskop het.”

Venter het ook gesê hy het as graad 10-seun by WHS ophou rugby speel omdat hy nie juis vordering in die sport gemaak het nie en hom eerder op hokkie begin toespits het.

“Ek was vleuel of skrumskakel en het nooit in ’n wedstryd pale toe geskop nie – sommer net wanneer ons sommige weekdae raakrugby by United gaan speel.

“Toe my foon begin lui en ek sien dis ’n vreemde nommer, het ek so byna nie geantwoord nie, want die toeskouers het ook op daardie tydstip ’n geweldige geraas gemaak, selfs deur met hul hande teen die stoele te klap,” het hy vertel.

Voor hy met sy skepskop losgetrek het, het hy die bal drie keer op die grond laat wip en ’n skietgebedjie opgestuur. Hy het net sy sokkies aangehad en was gelukkig dat iemand in die geharwar agterna sy skoene (met sy selfoon binne) vir hom terugbesorg het.

“Om ’n kar te kan wen, is wonderlik en ’n groot hupstoot in die lewe. Ek is superopgewonde en ek kan maar net weer dankie sê aan al die partye wat ’n rol gespeel het om hierdie kompetisie moontlik te maak – Officecenomix, FNB Namibia, Hollard, Herman Krause Versekeringsmakelaars, Pupkewitz Nissan, Synergi en Kosmos 94.1.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!