Krieketklub heropen vir jeug

Yolanda Nel
Die krieketklub op Keetmanshoop het in Februarie vanjaar herleef om vir die jeug ’n geleentheid te gee – nie net om ’n sport te beoefen nie, maar ook hul sosiale vaardighede te bevorder.

Die feit dat van die Namibiese Eagles se mees prominente spelers van die afgelope dekade soos JJ Smit (een van die voorste veelsydige spelers ter wêreld), die linkerarm-draaibouler Bernard Scholtz en die uitgetrede nasionale kaptein Nicolaas Scholtz van die verre suide van Namibië afkomstig is, kan as ’n inspirasie vir die volgende geslag dien.

Volgens een van die stigters wat weer lewe in die klub blaas, Jonathan Freyer, is die klub in 2001 gestig.

Freyer was destyds ’n stigterslid en die klub het in 2004 selfs aan die MTC Nasionale premierliga deelgeneem.

“Toe baie van die spelers universiteit toe is of elders gaan werk soek het, het die klub in 2008 doodgeloop,” vertel hy.

Sy strewe is nou om te verseker daar is ’n konstante vloei van jongmense wat die klub aan die gang sal hou. Keetmanshoop spog reeds met seuns- en meisiespanne vir onder 11, o.13 en o.19.

Freyer sê sportdeelname is baie belangrik, want dit help jongmense om hul emosies te beheer en op ’n gesonde manier van hul negatiewe gevoelens ontslae te raak.

“Krieket help kinders om geduld aan te leer en met harde werk kan dit hul fisieke en akademiese vaardighede verbeter,” verduidelik hy.

Ongelukkig beleef die ||Kharasstreek hoë druipsyfers onder graad 10- en 12-leerlinge. Die vlakke van misdaad en drankmisbruik is ook met tye kommerwekkend.

“Deur hierdie program hou ons nie net die kinders besig en uit die strate nie, maar dit het ’n gesonde en opbouende impak op hul lewe,” sê hy trots.

Volgens Freyer is een van die hoogtepunte sedert die klub weer oopgemaak het die meisiespanne se opgang sover. “Hulle is die eerste meisiespanne in Keetmanshoop se geskiedenis en as afrigter is ek passievol in ’n loopbaan as ’n afrigter van vrouekrieket.”

Hul eerste deelname in ’n toernooi was in Mei vanjaar op Outjo en die o.13-span het met ’n bronsmedalje teruggekeer.

Freyer se passie vir jeugontwikkeling kom sedert sy eie kinderdae, met sy ma as onderwyseres en sy pa as ’n sportbeampte in die streek.

“Beide van hulle het altyd uit hul pad gegaan en ekstra moeite gedoen wanneer dit kom by jeugontwikkeling deur sport, kultuur en onderrig.”

Die krieketklub is by die J. Stephanus-stadion op Keetmanshoop geleë en is oop vir enige iemand wat wil betrokke raak. Hulle is ook op soek na potensiële skeidsregters, spanbestuurders en tellinghouers om die plaaslike sport te ondersteun en te bevorder.

Vanaf Januarie volgende jaar sal hulle by die Keetmanshoop-stadion oefen om te verseker dat krieket toeganklik vir almal in die span is.

Freyer beoog om volgende jaar ’n aktiewe span vir elke skool in elke ouderdomsgroep op die been te bring.

Hoewel lidmaatskap by die klub gratis is, is daar altyd koste betrokke om sake op en van die veld te laat vlot. Die klub is dankbaar teenoor Suide Koelkamers wat die hoofborg vir vanjaar se o.13 meisiespan was.

Kommentaar

Republikein 2025-01-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 31° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 16° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 14° | 30° Omaruru: 15° | 30° Windhoek: 16° | 29° Gobabis: 20° | 35° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 18° | 33° Mariental: 20° | 35° Keetmanshoop: 17° | 34° Aranos: 20° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 16° | 34° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 23° Mbabane: 15° | 18° Maseru: 12° | 29° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 20° | 24° Maputo: 19° | 27° Windhoek: 16° | 29° Cape Town: 16° | 22° Durban: 17° | 23° Johannesburg: 15° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 18° | 29° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!