• Tuisblad
  • Sport
  • Kriel lei Leeus teen Franse en Alberts pak sy ou spanmaats
Jaco Kriel (regs), oud-Springbokflank van die Leeus, verlede week op Ellispark in Johannesburg teen die Dragons. Foto Gallo Images
Jaco Kriel (regs), oud-Springbokflank van die Leeus, verlede week op Ellispark in Johannesburg teen die Dragons. Foto Gallo Images

Kriel lei Leeus teen Franse en Alberts pak sy ou spanmaats

Rugby
Sarel van der Walt
Die oud-Springbokflank Jaco Kriel sal die Leeus Vrydagaand op Ellispark in Johannesburg in ’n Europese Uitdaagbeker-wedstryd teen Stade Francais lei.

’n Ander outand-Leeu Willem Alberts (38), ook ’n oud-Springbok, sal op slot diens doen teen die Franse klub vir wie hy vroeër in 79 wedstryde uitgedraf het.

Sy kennis van die Franse taal kan die Leeus help.

Reinhard Nothnagel, wat tot dusver dié seisoen in al die Leeus se wedstryde gespeel het, sal dié keer op die plaasvervangersbank wees wanneer die wedstryd om 19:30 begin.

Pieter Jansen van Vuren sal Alberts se slotmaat wees.

Verskeie ander versterkings is aangebring aan die span wat verlede naweek met 31-31 teen die Dragons op Ellispark gelykop gespeel het.

Die ervare Jaco Visagie (haker) is terug in die beginspan, terwyl Asenathi Ntlabakanye in die plek van die beseerde oud-Springbok Ruan Dreyer op stut sal opdraf. Dit is nie bekend hoe lank Dreyer, wat verlede week ’n enkelbesering opgedoen het, buite aksie sal wees nie.

Die Leeus hoef hulle egter nie te bekommer oor die besoekers se Springbok-stut Vincent Koch nie. Dié sukkel met ’n besering en het nie saam met sy nuwe klubmaats uit ’n yskoue Parys na Suid-Afrika gereis nie.

Die slot JJ van der Mescht en die skrumskakel James Hall is die twee Suid-Afrikaners wat vir die besoekers sal opdraf.

Die belowende Henco van Wyk, wat ’n skorsing van drie weke uitgedien het, en Marius Louw, wat verlede week gerus het, sal weer die Leeus se senterpaar wees.

Hul teenwoordigheid sal veral die Leeus se verdediging in die middelveld versterk nadat dit verlede week teen die Dragons gelol het.

Albei van hulle is puik op die aanval en die verdediging.

Die Leeus het teen die Dragons veral in die eerste helfte nie goed gespeel nie en veral op die verdediging te veel strafskoppe afgestaan.

Die blitsige Quan Horn sal op linkervleuel ingespan word, terwyl die ervare oud-Springbok Andries Coetzee weer in die laaste vesting sal uitdraf.

Edwill van der Merwe (regtervleuel) wat dié seisoen een van die Leeus se groot uitblinkers is, sal saam met hulle die agterste driehoek vorm.

Hulle behoort die druk van lugaanvalle van die Parysenaars te kan weerstaan en moontlik op dié manier verdediging in aanval omskep.

Kriel, wat verlede week met bal in die hand weer na die ou Jaco Kriel gelyk het, die knap jong Ruan Venter en Emmanuel Tshituka sal die lostrio vorm.

Hulle behoort hul man te staan teen die sterk span uit Parys wat die derde plek in die moeilike Franse Top 14-kompetisie beklee.

Die kookwater Sanele Nohamba (skrumskakel) en Jordan Hendrikse (losskakel) vorm die skakelpaar.

Die haker Michael van Vuuren, wat hom onlangs van Wasps in Engeland by die Leeus aangesluit het, is op die plaasvervangerbank en kan moontlik sy debuut vir sy nuwe span maak.

Die Leeus sal graag ’n goeie oorwinning – met ’n bonuspunt of twee en ’n groot punteverskil – wil behaal om hom te help om later die uitspeelrondes van dié toernooi te haal.

Hulle weet hul sal fisiek moet wees en nie onnodige strafskoppe afstaan nie. Die Leeus verwag ook Stade Francais sal swaar leun op aanvallende skoppe.

Die Leeus se volgende twee wedstryde in die Europese Uitdaagbeker-reeks is teen die einste Stade Francais in Parys en die Dragons in Wallis.

Daar is ’n groot kans dat dit Vrydagaand op Ellispark kan reën.

SPANNE

Leeus: Andries Coetzee, Quan Horn, Henco van Wyk, Marius Louw, Edwill van der Merwe, Jordan Hendrikse, Sanele Nohamba, Emmanuel Tshituka, Ruan Venter, Jaco Kriel (k), Pieter Jansen van Vuren, Willem Alberts, Asenathi Ntlabakanye, Jaco Visagie, JP Smith. Reserwes: Michael van Vuuren, Sti Sithole, Ruan Smith, Reinhard Nothnagel, Darren Landsberg, Sibusiso Sangweni, André Warner, Rynhardt Jonker.

Stade Francais: Leo Monin, Nadir Megdoud, Paolo Odogwu, Theo Dachary, Harry Glover, Léo Barre, James Hall, Juan Martin Scelzo, Mathieu Hirigoyen, Giorgi Tsutskiridze, JJ van der Mescht, Nathan Huguen, Giorgi Melikidze, Laurent Panis (k), Vasil Kakovin. Reserwes: Lucas Peyresblanques, Paul Alo-Emile, Moses Alo-Emile, Sergo Abramishvili, Ferdinand Dreno, Noa Kanika, Arthur Coville, Alex Arrate.

* Skeidsregter: Karl Dickson (Eng).

* Assistent-skeidsregters: Matthew Carley (Eng) en Sara Cox (England).

* TV-skeidsregter: Ian Tempest (Eng)

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!