• Tuisblad
  • Sport
  • Kroasië stewig soos rots, maar Messi ’n meester
Lionel Messi (regs) en Rodrigo De Paul vier Vrydagaand Argentinië se oorwinning oor Nederland in die kwarteindronde van die WB-toernooi. Foto Getty Images
Lionel Messi (regs) en Rodrigo De Paul vier Vrydagaand Argentinië se oorwinning oor Nederland in die kwarteindronde van die WB-toernooi. Foto Getty Images

Kroasië stewig soos rots, maar Messi ’n meester

Sokker
Argentinië, met sy talisman Lionel Messi, het by die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Katar aangetree as ’n warm gunsteling om die kroon te dra. Nou staan hy voor ’n halfeind-hekkie wat sy allerbeste gaan verg.

Dinsdag moet hy Kroasië, wat in 2018 in die eindstryd verloor het, rol.

Die einste span wat die magtige Brasilië – vyfmalige wenner van die grootste sportskoupel ter wêreld – in die kwarteindronde uitgeknikker het.

Die Kroate het die groot gunsteling vanjaar terug na Suid-Amerika gestuur deur ’n strafdoelstryd te wen nadat hulle in bykomende speeltyd ’n gelykmaker geskiet het.

Niemand het die uitslag verwag nie, gegewe die Brasiliane se vertoning tot en met die uitklop-kragmeting.

En dis dié faktor wat die Argentyne Dinsdag sal bekommer.

Kroasië gee eenvoudig nie bes nie, selfs al swaai die skaal beduidend in die guns van sy teenstander.

Dis die span, wat in die verloop van vanjaar se aksie nogmaals met sy dissipline indruk gemaak het, se tweede halfeind-besoek agtereenvolgens.

Kortom gestel: Argentinië sal ’n noodlottige fout begaan as hy sy teenstander onderskat.

As 37-jarige is hy ’n veteraan in die internasionale arena, maar Kroasië se Luka Modric is die span se antwoord op wat Messi die Argentyne bied.

Sy blote teenwoordigheid op die veld is ’n aansporing vir sy spanmaats.

Kroasië het die bykomende bonus dat geen van sy spelers al rooi kaarte gewys is, of met beserings sukkel nie. Die verdediger Borna Sosa is beskikbaar vir Dinsdag se uitklopstryd en Zlatko Dalic (afrigter) se span sal dus geen tekort aan selfvertroue hê nie.

Bruno Petkovic, wat as plaasvervanger die gelykmaker teen Brasilië aangeteken het, sal straks dié keer in die plek van Andrej Kramaric in die beginspan wees.

Argentinië weet egter dié is sy beste kans om die eerste keer sedert Diego Maradona se 1986-span WB-glorie te smaak. Maklik gaan dit nie wees nie.

Die verdedigers Marcos Acunaen Gonzalo Montiel sal weens rooi kaarte nie Dinsdag aantree nie, wat Lionel Scaloni (afrigter) se agterste linie kwesbaar maak.

Daar is ook vrae oor die fiksheid van die 34-jarige veteraan Angel Di Maria – hy is sover meestal as plaasvervanger in die toernooi ingespan, al is sy beseringskwessies glo iets van die verlede.

Maar dan is daar Messi. In wat sekerlik sy laaste WB-toernooi sal wees.

En op 35-jarige ouderdom is dié titel, die grootste in ’n beroepspeler se loopbaan, een wat hom steeds ontwyk.

Dit sal as bykomende motivering dien. En met debatte oor wie van Messi en Maradona die grootste Argentynse ster van alle tye is, sal hy met ’n stervertoning die laaste sê wil hê.

Maak die sitplekgordels vas, ’n wilde rit is te wagte.

– Reuters; Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!