Kry insig in ’n elite loopbaan as atleet

Atletiek
Beide L.J. van Zyl en Ruswahl Samaai het jare se eerstehandse ondervinding op die hoogste vlak.
Andrew Poolman
Twee deurwinterde Olimpiese baan- en veldatlete van Suid-Afrika is die genooide sprekers by ’n gratis tweedaagse slypskool op Oshakati (Maandag en Dinsdag 30 en 31 Januarie) en die daaropvolgende twee dae in Windhoek.

Die 31-jarige verspringer Ruswahl Samaai en 400-hekkieshardloper L.J. van Zyl (37) se besoek word gereël om aan voornemende Namibiese atlete en afrigters ’n geheelbeeld te bied van wat atletiek as ’n professionele loopbaan behels – die geleenthede, die struikelblokke en hoe om dit vol te hou.

Samaai, wat in ’n minder gegoede gemeenskap in die Paarl grootgeword het, was die afgelope jare ’n gereelde uitblinker op internasionale reeks- en wêreldbyeenkomste.

Met persoonlike beste vertonings van 8.49 meter in verspring en 16.10 in driesprong, sluit die hoogtepunte van sy loopbaan twee Olimpiese Speles (2016 en 2021) en vier deelnames aan wêreldkampioenskappe in. By die 2017 wêreldkampioenskap in Londen het hy die bronsmedalje ná dié goud van sy landgenoot Luvo Manyonga ingepalm. Hy was ook die Afrika-titelhouer in verspring in 2016 en 2018.

Van Zyl, gebore in Bloemfontein en later Tuks-atleet, is Suid-Afrika se rekordhouer in die 400 hekkies (47.66) en driemalige Afrika-kampioen. Hy het in die Olimpiese Speles van 2008, 2012 en 2016 meegeding, met ’n vyfde posisie in eersgenoemde se finaal in Beijing. Hy het ook ’n bronsmedalje by die 2011 wêreldkampioenskap verower.

Corlia Maritz, die projekbestuurder vir hul besoek onder die tema “Developing Namibian Diamonds”, sê die koste word deur ’n spesiaal toegekende toelaag van Wêreldatletiek gedek.

Maritz, wat self in 2015 as Namibiese sewekampatleet bekendheid verwerf het, het in haar voorlegging aan Wêreldatletiek geskryf: “Die Wêreldplan vir Atletiek 2022-2030 het by Atletiek Namibië weerklank gevind – spesifiek die doelwit om atlete sodanig te ontwikkel dat hulle die oorgang van die speelgrond na die podium kan maak.

“Ons visie stem ooreen met Atletiek Namibië s’n: Om ’n liggaam van uitnemendheid te wees wat daarna streef om atlete vanaf grondvlak tot die wêreldklas-verhoog te ondersteun.

“Hier in Namibië lyk ons speelgronde dalk ’n bietjie anders as dié van ander lidfederasies, aangesien die meeste van ons plaaslike dorpe uiters onderontwikkel is.

“Die meeste kinders in ons plaaslike bevolking het beperkte toegang tot speeltoerusting en geriewe om hul fisieke krag en vaardighede te ontwikkel. Die meeste van ons dorpe het geen ook fasiliteite om die kinders aan atletiek bloot te stel nie.

“Met die onlangse ontdekking en ontwikkeling van atlete uit onderontwikkelde gebiede in Namibië, het dit duidelik geword dat ons land oor oorvloedige talent beskik wat bloot die nodige identifisering, bevordering en ontwikkeling vereis. Tot ’n verdere mate was ons as ’n land uiters trots om te sien hoe hierdie plaaslik geïdentifiseerde en ontwikkelde atlete op ’n internasionale platform streef.

“Ons sien spesifiek die behoefte om by die basiese beginsels te begin, om die nodige platform te skep vir ’n atleet op die speelgrond om blootgestel te word aan wat atletiek kan bied en daardie belangstelling met die nodige hulp (van die regte mense) te laat vrugte afwerp.

“Afrigters, amptenare, administratiewe personeel en vrywilligers is die ruggraat wat atletiek bestuur en ons het sulke mense dringend nodig om die sport in ons land te onderhou en te ondersteun. Ons moet die opleidingsgeleenthede vir hierdie individue uitbrei om hul vaardighede te ontwikkel en op te skerp. Om dit te doen, moet ons opleiding meer gereeld, meer toeganklik en meer bekostigbaar maak vir dié wat daarin belangstel.”

Die venues vir die slypskole is Oshakati Guesthouse, en in Windhoek by die Utopia-konferensiesaal. Registrasie word op die eerste dag vanaf 07:30 gedoen. Die sessies is van 08:30 tot 10:30, 11:00-13:00 en 14:00 tot 16:00.

Die slypskool is veral gerig op atlete, afrigters, onderwysers, atletiekbeamptes en personeel in sportadministrasie. Registreer vooraf by [email protected]. Deelname is kosteloos en middagete word verskaf, maar elkeen is vir sy eie reis en verblyf verantwoordelik.

Bywoners word ook aan Wêreldatletiek se e-onderrigplatform bekendgestel.

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!