Kwalifisering wink vir Gladiators
Sokker
Foutloos was dit nie, maar die Namibiërs het vasgebyt teen hul hoër gerekende opponente.
Namibië se nasionale vrouesokkerspan is steeds op die rand van ’n historiese kwalifisering vir die Afrika-Nasiebeker, met net een beslissende kragmeting wat lot sal bepaal of hulle in Juliemaand die vasteland se bestes in Marokko mag gaan uitdaag.
Die Brave Gladiators het gisternamiddag by die Nhkoloma-stadion in ’n reënerige Lusaka daarin geslaag om Zambië se Shepolopolo (die Koperkoeëls) se dag met ’n gelykopuitslag (0-0) te bederf. Die gasheerspan was immers die volslae gunsteling, op grond daarvan dat hulle verlede jaar by die Olimpiese Spele in Tokio meegeding het.
Die spankaptein Emma Naris het ná die eindfluitjie gesê die vroue is vasbeslote om tot die einde aan te hou veg vir hul droom om vir die Afrika Nasiebeker te kwalifiseer.
Afrigter Woody Jacobs het erken dit was ’n taai wedstryd, dat sy span met tye onder druk was en op sekere oomblikke die geluk aan hul kant gehad het om nie ’n doel af te staan nie.
“Ons het ook doelkanse verspeel, maar ons het in die tweede helfte beter gespeel en die feit dat ons nie verloor het nie, is baie belangrik. Dit hou die herontmoeting teen Zambië relevant.”
Jacobs was vol lof vir sy verdedigers, wat sonder die gebruiklike teenwoordiger van Lovisa Mulunga. “Die vertoning was nie sonder foute nie, maar ons sal ons ontleding doen en kyk watter aanpassings ons moet doen.
Hoewel die wedstryd teen ’n vinnige pas gespeel is, het dit selde gelyk of enige van die twee spanne ’n doel sou aanteken.
Selfs die ervare Zenatha Coleman kon as aanvaller geen bres vir die Brave Gladiators slaan nie. Die Gladiators-staatmaker moes vlugflouheid oorkom nadat sy eers vandeesweek vanaf haar klubspan in Spanje by haar maats in Lusaka aangesluit het.
Die gebrek aan ondersteunende spel en struktuur naby die doelkas het Namibië telkens in die steek gelaat.
Die Gladiators het gereeld besit by hul opponent afgeneem, maar met onakkurate aangeewerk en swak besluitneming, die besit net so maklik weer afgestaan.
Alle is gewis nog nie verlore vir die Gladiators nie. Voor die herontmoeting teen Zambië komende Dinsdag by die Orlando-stadion in Johannesburg het afrigter Woody Jacobs beslis ’n paar positiewe punte om mee te werk.
Die Gladiators se verdediging was sekerlik die beste afdeling van hul mondering. Veral Memory Ngonda en Anouscka Kordom het op die verdediging beïndruk. Jacobs sal egter beslis aan sy doelskieters se akkuraatheid aandag moet gee.
Indien Namibië vir Zambië met ’n enkele doel kan klop, sal hulle vir Marokko kwalifiseer.
Gister se beginspan: Melissa Matheus (doelwagter), Vewe Kotjipati, Ndapewa Kaututa, Emma Naris (kaptein), Twelikondjela Amukoto, Anousca Kourdom, Asteria Angula, Zenatha Coleman, Memory Ngonda, Thomalina Adams, Anna-Marie Shikusho. Die plaasvervangers was Selma Enkali, Millicent Hikuam, Ivone Kooper, Lydiana Nanamus, Juliana Blou, Agnes Kauzuu en Fiola Vliete (doelwagters).
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie