• Tuisblad
  • Sport
  • Leeus kán saam met groot honde in VRK blaf, sê Ivan

Leeus kán saam met groot honde in VRK blaf, sê Ivan

Rugby
Die Gautengers put inspirasie uit 'n vegtende vertoning in Belfast.
Sarel van der Walt
Die Leeus is goed genoeg om mee te ding, goed genoeg om hul huidige gang om te keer en goed genoeg om uiteindelik onder die voorste vier of vyf spanne in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) te eindig.

Daar is egter ’n paar goed wat eers aandag moet kry.

Só het ’n baie teleurgestelde Ivan van Rooyen, hoofafrigter van die Leeus, gesê ná sy span se nederlaag van 17-24 teen Ulster Vrydag in Belfast, Noord-Ierland.

Ulster is een van die voorste spanne in vanjaar se reeks en het al met onder meer die Bulle én Munster, die verdedigende kampioen, afgereken.

Die Leeus, wat hul eerste drie wedstryde naelskraap verloor en ’n week gelede met ’n enkele punt teen die Scarlets in Wallis gewen het, kon net sowel Vrydagaand as oorwinnaars van die veld gestap het. Hulle het rustyd met 14-7 voorgeloop.

Die Leeus keer nou ná hul maand lange toer huis toe.

“Ons is uiteraard teleurgesteld met die uitslag,” het Van Rooyen gesê ná die wedstryd wat in koue en nat weer beslis is.

“My gevoel was ons het die geleentheid gehad om Vrydagaand ’n geskiedkundige oorwinning te behaal. ’n Fout aan ons kant met ’n inskop en twee skrum-strafskoppe teen ons het ons die wedstryd gekos,” het Van Rooyen gesê.

“Ek is nogtans trots op die manier hoe die span aanhou veg en by die toestande aangepas het. Ek het ná die wedstryd met Ulster gepraat en hulle het gesê ons (die Leeus) het hulle met fisieke spel en vinnige spel onder druk geplaas.

“Ons kon onder druk en onder moeilike omstandighede net nie die knoop deurhaak nie,” sê hy.

Die Leeus het teen die einde van die wedstryd met hul nou bekende terugvegpoging vorendag gekom, maar kon net nie die wa deur die drif sleep nie.

“Ons is opgewonde om nou huis toe te kan gaan. In Johannesburg is dit op die oomblik omtrent 25 °C warmer as hier (in Noord-Ierland). Ons het nou twee VRK-wedstryde en dan ook twee wedstryde in die Europese Uitdaagreeks,” sê Van Rooyen.

Die Leeus se eerste wedstryd is komende Saterdagmiddag teen die Italiaanse span Zebre op Ellispark, hul lêplek in Johannesburg.

VOORUITSIGTE TUIS

Hanru Sirgel, die Griekwas-kaptein wat vir die VRK aan die Leeus geleen word, was ná die wedstryd ook baie teleurgesteld. Hy sê die Johannesburgse span het veral in die eerste helfte baie goed gespeel. Sirgel het een van die Leeus se twee drieë gedruk.

“As ek nou so vinnig terugdink, het ons met twee inskoppe fout begaan en so druk op onsself geplaas en punte afgestaan. Die ouens se vlak van inspanning, die desperaatheid en veggees kan nie bevraagteken word nie.

“Die ouens het álles op die veld gegee. Die silwer randjie om die donker wolk is dat ons darem ’n bonuspunt verwerf het. Ons was desperaat vir ’n oorwinning, maar ongelukkig kon ons dit nie vermag nie,” het dié hardwerkende flank gesê.

“Hierdie is ’n spul ouens wat baie na aan mekaar is. Ons werk hard om te kan wen. Ons kan nou nie wag om huis toe te gaan en voor ons eie ondersteuners te speel en hulle met goeie rugby te trakteer nie,” sê Sirgel.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!