• Tuisblad
  • Sport
  • Leeus-leier Burger ook deur Engelse klub opgeraap

Leeus-leier Burger ook deur Engelse klub opgeraap

Rugby
Marizanne Kok
Die Leeus-senter Burger Odendaal gaan eersdaags ponde in sy spaarvark begin bêre, nadat hy besluit het om hom aan die einde van die seisoen by die Engelse klubspan Wasps aan te sluit.

Dié klub het Dinsdag in ’n verklaring gesê Odendaal sal van die begin van die 2022/’23-seisoen af sy rugby in Coventry speel, nadat hy deur Wasps se aanvalsafrigter, John Mitchell, aanbeveel is.

Mitchell en Odendaal het al ’n paar sakke sout saam opgeëet, met eersgenoemde die afrigter en laasgenoemde die kaptein van die Bulle-span wat in 2018 net 12de in die Superreeks kon eindig.

Odendaal moes twee seisoene later ’n ander heenkome vind nadat Jake White nie vir hom plek in sy Loftus-planne kon vind nie en het in die 18 maande sedert hy ’n Leeu geword het, een van Ellispark se groot staatmakers geword.

Hy was nie net hul kaptein vir die eerste deel van die Verenigde Rugbykampioenskap nie, hy was ook een van die enkele spelers wat weekin en weekuit goeie rugby gespeel het.

Ricardo Loubscher, die Leeus se agterlyn- en aanvalsafrigter, het Dinsdag gesê dis hartseer vir die span om ’n speler soos Odendaal te verloor.

“Totdat hy weggaan, bly hy natuurlik deel van ons planne, maar dit sal altyd moeilik wees om ’n speler van Burger se gehalte te verloor,” het Loubscher gesê vanuit Dublin, waar Odendaal-hulle Vrydag teen Leinster te staan kom.

“Dit gaan ’n groot verlies wees wat sy leierskap betref en die verskil wat hy maak wanneer hy goed speel. Ek het ’n paar weke terug, in die spanpraatjie voor ons wedstryd teen die Stormers, gesê as Burger goed speel, gee dit die hele span selfvertroue. En hy het regtig goed gespeel in daardie wedstryd.

“Ons gaan hom mis, maar terselfdertyd besef ons dit is ’n wonderlike geleentheid vir hom om sy loopbaan vorentoe te neem.”

• Twee Leeus-spelers wie se loopbane tydelik tot stilstand geruk is, is die Tshituka-broers Vincent en Emmanuel, wat Vrydag op televisie sal moet kyk hoe hul spanmaats in Dublin vaar.

Die broers se status as vlugtelinge het verhoed dat hulle Sondag saam met hul spanmaats na Ierland kon reis om Leinster in die Verenigde Rugbykampioenskap te pak.

Nyaniso Sam, die Leeus se mediabeampte, het Dinsdag aan Netwerk24 gesê die owerhede het die broers reeds op die O.R. Tambo-lughawe laat omdraai omdat hulle nie die korrekte reisdokumente gehad het nie.

Die Tshitukas is burgers van die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) en het paspoorte van dié land, maar is Sondag gevra om ook identifikasiedokumente te wys wat hul vlugtelinge-status staaf.

Hulle wag steeds vir dié dokumente, sê Sam.

“Hulle is verlede jaar toegelaat om sonder daardie papierwerk Italië toe te reis (vir die Leeus se eerste VRK-toer), maar het met ons terugkeer in Oktober dadelik aansoek gedoen vir hul vlugteling-dokumente,” sê Sam.

“Nadat hulle Sondag by die lughawe weggewys is, het ons gister ’n horde oproepe gemaak om uit te vind wat die status van hul aansoek is, in die hoop dat ons hulle wel op ’n vliegtuig sou kon kry. Maar hul dokumente sal eers einde Maart reg wees, so ongelukkig sal die span hierdie week sonder hulle moet aangaan.”

Vincent (23) is die Leeus se verkose 7-flank en Emmanuel (21) sou hom waarskynlik op die bank bevind het om dekking as losvoorspeler en/of slot te bied. Die Leeus het besluit om Lunga Ncube in hul plek te stuur.

Die Tshitukas het as jong seuns saam met hul ouers na Suid-Afrika gekom en albei aan Northcliff High School in Johannesburg gematrikuleer. Hulle het onlangs begin met die proses om Suid-Afrikaanse burgers te word – luidens mediaberigte op aandrang van die Springbok-kamp.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer