• Tuisblad
  • Sport
  • LIV-ster aanvaar spesiale uitnodiging na Meesters
Joaquin Niemann se vertonings die afgelope tyd was te goed vir die organiseerders van die Meesters om te ignoreer. Foto: Netwerk24/Getty Images
Joaquin Niemann se vertonings die afgelope tyd was te goed vir die organiseerders van die Meesters om te ignoreer. Foto: Netwerk24/Getty Images

LIV-ster aanvaar spesiale uitnodiging na Meesters

Henriette Lamprecht
LIV Golf se Joaquin Niemann is een van twee spelers wat ’n spesiale uitnodiging aanvaar het om aan vanjaar se Meesterstoernooi deel te neem.



Dit is deel van die toernooi se tradisie om vooraanstaande internasionale spelers te betrek wat andersins nie vir die byeenkoms kwalifiseer nie.



Benewens die 26-jarige Chileen het Augusta National, wat die toernooi organiseer, bevestig ’n uitnodiging is ook aan Nicolai Hojgaard van Denemarke gerig, wat verlede April in sy Meesters-buiging ’n plek in die top-ses ná elk van die eerste drie rondes beklee het.



“Ter ondersteuning van Augusta National se pogings om belangstelling in gholf oor die wêreld heen aan te wakker, is verdienstelike internasionale spelers wat nie andersins kwalifiseer nie, oudergewoonte genooi om deel te neem,” sê Fred Ridley, voorsitter van Augusta National-gholfklub.



“Die tradisie gaan voort wanneer ons Nicolai en Joaquin by die Meesters terugverwelkom, aangesien albei spelers hul talent ten toon gestel het terwyl hulle oor die wêreld heen meegeding het. Ons sien uit na hul koms hierdie April.”



Niemann, 71ste op die wêreldranglys, het verlede jaar twee LIV-titels gewen en as naaswenner agter die Spanjaard Jon Rahm in die rebellereeks se individuele kampioenskap geëindig.



Niemann het in die laaste twee maande van 2024 gesamentlik sewende in die DP World-kampioenskap in Dubai geëindig, gesamentlik vyfde as verdedigende kampioen in die Australiese Ope klaargemaak en ’n Asiese reeks-byeenkoms in Saoedi-Arabië gewen.



Hy sal vanjaar in sy sesde Meesterstoernooi meeding nadat hy sy buiging in 2018 as die top-gekeurde amateur ter wêreld en heersende Latyns-Amerikaanse amateurkampioen gemaak het.

Die tweeling Nicolai en Rasmus Hojgaard gaan ook aan die Meesters deelneem. Foto: Getty Images



Hojgaard het verlede jaar ’n asemrowende Meesters-buiging gehad, aangesien hy in ’n stadium in die derde ronde kortstondig die voortou gehou het voordat hy die kluts kwytgeraak het en in die gesamentlike 16de plek geëindig het.



Die jong Deen se 2024 het ’n sewende plek op die Olimpiese Spele in Parys ingesluit en hy het die jaar met vyf agtereenvolgende top-25-vertonings in die DP World-reeks afgesluit.



Hojgaard, 60ste op die wêreldranglys, se tweelingbroer, Rasmus, het reeds vir die jaar se eerste major gekwalifiseer, wat beteken ’n tweeling sal vir die eerste keer aan dieselfde Meesterstoernooi deelneem.



Vanjaar se Meesters word van 10 tot 13 April beslis. Scottie Scheffler, die wêreldnommereen, het verlede jaar se Meesters vir sy tweede major-titel gewen. – Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-04-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer