Lood se verlies ’n groot terugslag, sê Eben
Rugby
Dit sal vir enige span ’n groot terugslag wees om die voorste nr. 5-slot in wêreldrugby te verloor.
Eben Etzebeth het die verlies van sy slotvennoot Lood de Jager só verwoord toe die Springbokke se Wêreldbeker-groep Dinsdag aangewys is.
De Jager (30) is vanweë ’n raaiselagtige borsbesering nie in die groep van 33 spelers gekies nie.
Hoewel Suid-Afrikaanse rugby geseën is met ’n oorvloed slotte van toetsgehalte, sê Etzebeth, De Jager laat ’n reuse-leemte.
“Lood is vir my die beste nr. 5-slot in die wêreld. Hy is ’n wonderlike ou in die lynstane en ons gaan hom mis.
“Ek is baie hartseer dat hy nie in die groep is nie, maar dit is belangriker dat sy gesondheid gou beter is.”
Etzebeth en De Jager was in die vorige twee WB-toernooie in Engeland en Japan die Bokke se voorkeur-slotpaar en hulle het al in 39 toetse saam in die tweede ry gesak – wat net deur Victor Matfield en Bakkies Botha (63) oortref word.
Daar sal uit Marvin Orie, Franco Mostert en RG Snyman gekies word vir ’n opvolger vir De Jager.
“By ons is dit gewoonlik die nr. 5-slot wat besluit oor die lynstane en Franco, Marvin en RG sal nou ’n groter rol speel. Hulle het ’n groot verantwoordelikheid, want Lood was regtig goed in dit wat hy doen,” het Etzebeth gesê.
“Gelukkig het ons diepte en dit gee ’n ou gemoedsrus dat Marvin verlede jaar op Twickenham ’n toets teen Engeland begin het.
“Dit sal hom die selfvertroue gee om op hierdie vlak sy stempel af te druk.”
Etzebeth meen dit tel in die wêreldkampioen se guns dat die kern van die 2019-span Frankryk toe gaan.
“Ouens soos Schalk Brits, Francois Louw en Beast (Mtawarira) het ná die vorige toernooi opgehou en daar is een of twee beserings, maar dis dieselfde kern en ons is nou baie meer ervare.
“Jy probeer elke keer om die beker te wen en ons voel hoe die hele Suid-Afrika weer agter ons staan.
“Ons gaan Frankryk toe om ons titel te verdedig en dit bly die grootste eer om jou land in die toernooi te verteenwoordig.
“Dit gaan ’n taai toernooi wees, want daar is ’n hele paar spanne wat die afgelope seisoen of twee ongelooflike rugby gespeel het.”
Voordat daar gedink kan word aan ’n teenstander soos Nieu-Seeland of Frankryk in die kwarteindronde, moet die Bokke eers verby Skotland kom, waarsku Etzebeth.
Suid-Afrika kom in sy eerste WB-wedstryd – op 10 September – teen die Skotte te staan.
“Skotland is altyd ’n moeilike span om teen te speel soos ons die naweek gesien het toe hulle Frankryk geklop het.
“Die Skotte is onvoorspelbaar en jy kan hulle nooit afskryf nie. Dit gaan een van ons belangrikste wedstryde wees as ons verder as die groepfase wil vorder.”
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie