Looser gunsteling vir solo-Dash sonder Drikus

Bergfietsry
Die inskrywings vir komende naweek se 19de Desert Dash is opnuut propvol bekende name en besoekende ryers uit die buiteland.
Tielman Van Lill
Yolande de Villiers van Oudtshoorn in Suid-Afrika, die 2022 solowenner in die vroueresies van die Nedbank Desert Dash, is terug om haar titel te verdedig.

Selfs die mees gesoute Dash-ryers se senuwees sou dié week al begin pla het vir die jaarlikse bergfietsren oor 397 kilometer van Windhoek na Swakopmund, deur die wêreld se oudste woestyn.

De Villiers, nou 50, het verlede jaar by die eindstreep gesê woorde kan nie juis beskryf hoe ekstaties sy voel om so ’n uitmergelende wedren te wen nie.

“Ek het baie stadig begin, maar my ou dieselenjin het wel later ingeskop. Die eerste gedeelte was baie warm en heeltyd met ’n wind van voor. In die donkernag verbeel jy jou dat jy allerhande dinge sien en jy veg om nie in die ry aan die slaap te raak nie.”

Drikus Coetzee sal nie sy solo-manstitel vir die 19de Nedbank Desert Dash verdedig nie. Die gebore Swakopmunder het in 2022 sy eerste solotitel verower met ’n verskil van sowat 21 minute voor Konny Looser.

Coetzee, net ’n week ná sy rekordtriomf in die Munga (1 132 km van Bloemfontein na Wellington), durf die uitdaging in ’n viermanspan aan (Indongo Toyota) saam met Derick Bester, Rolf Schultz en Raymond de Kock. Hul kan goeie teenstand van spanne soos Cymot Elite (Kevin Lowe en Theuns van der Westhuizen met twee Suid-Afrikaners, Casper Kruger en Christiaan Janse van Vuuren) verwag.

Die Hollard Life-kwartet van Gerhard Mans, André Vermeulen, Clinton Hilfiker en Ingram Cuff is ook geharde Dash-ryers. Cuff en Vermeulen was juis verlede jaar eerste in ’n viermanspan.

Konny Looser, ongetwyfeld die mees indrukwekkende figuur in die geskiedenis van die byeenkoms, is ook weer terug. Die 34-jarige Switser het die Dash ses keer agtereenvolgens gewen voordat Tristan de Lange in 2022 en Coetzee in 2023 gewen het en hy met tweede posisies tevrede moes wees.

De Lange, die Olimpiër van 2021 wat selde meer op die topvlak meeding, is nogtans dikwels ’n topaanspraakmaker wanneer hy wel onverwags by byeenkomste opdaag. De Lange se naam verskyn wel onder die solo-inskrywings en met sy internasionale stamboek van prestasies kan hy gewis ’n faktor wees – net soos vorige presteerders soos Dusty Day (RSA), wat tevore tweede posisies behaal het.

Marc Pritzen, Suid-Afrikaanse padfietskampioen wat in Windhoek gebore is, en sy broer Kai is ook solo-inskrywings. Rick Steffen van Duitsland (derde in 2022) kan opnuut in die solo-resies se voorste gestoeltes wees, terwyl die Namibiërs Danzel de Koe en Jürgen Sander ook nie misgekyk kan word nie.

Drie-en-twintig vroue het hul name in die hoed gegooi om die Dash as solo-ryers aan te pak. Melanie Baumann (Switserland) en Steffi Steinberg (Duitsland) en Susanne Behrendt-Haenlein (Duitsland) verleen ’n internasionale geur, tesame met omtrent tien Suid-Afrikaners.

Belinda van Rhyn (MBM), Marcelle Eloff en Monika Grossmann (Mannie’s Sport Lab), Rebecca van Huyssteen (Hollard), Nicola Fester, Claudia Bredenhann, Yvonne Roodt en Riana Swiegelaar verteenwoordig Namibië.

Jean-Marie Mostert, Monique du Plessis, Sandra Lippert en Binette Klein (Cymot) het in 2022 die vierryertrofee omhoog gehou.

’n Interessante verwikkeling is Vera Looser wat haar vernuf by die gemengde vierryerspan (MBM) saam met Xavier Papo, Daniel Abraham (Paralimpiese en wêreldkampioen van Nederland) en Ruan van der Westhuizen (Suid-Afrika) ingooi.

KLIPPE KOU

Die tweeryer-afdeling lyk naas die solo-resies asof dit die strafste kompetisie sal bied.

In 2022 het Risa Dreyer en Genevieve Weber die vroueresies gewen, terwyl Marc Pritzen en Alex Miller die vinnigste manspan was. By die gemengde spanne was Anri Krugel en Clinton Hilfiker die topspan.

Dreyer tree nie môre vir die Dash aan nie.

Miller ry dié keer die Dash in ’n tweemanspan saam met Suid-Afrika se Philip Buys, sy gedugte professionele spanmaat vir Pyga Euro Steel/King Price). Tensy iets skeefloop, sal dit ’n verrassing wees indien dié kombinasie nie die eindstreep eerste haal nie.

Vera Looser het verlede jaar saam met Hugo Hahn die Dash aangedurf, maar weens ’n terugslag kon hulle nie die afstand suksesvol voltooi nie.

Hahn, asook Risa Dreyer, se name verskyn nie vanjaar onder die inskrywings vir die bergfietsresies na Swakopmund nie.

Hans du Toit, die Namibiese nasionale fietsryafrigter, pak die Dash vir die eerste keer as solo-ryer.

WEGSPRING

Die Grove Mall in Windhoek se parkeerterrein op die laer vlak sal soos gebruik die wegspringpunt wees. Die soloryers (14:30) en tweepersoonspanne (15:00) word gevolg deur die elektroiese bergfietse (15:15) en die vierpersoonspanne (15:30).

Die afsnytyd is 24 uur om die eindstreep Saterdag by Platz Am Meer op Swakopmund te haal.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!