Lüderitz na Walvisbaai is nie ’n resies

Bergfietsry
Andrew Poolman
’n “Gelukkige” groepie van 12 ryers sal vanaf vandag deel uitmaak van die eerste ekspedisie van sy soort, op dikwielbergfietse, van Lüderitz na Walvisbaai in ses daaglikse skofte.

Die Namibiese ryer Martin Freyer, verlede maand se wenner van die taaiste bergfietsresies op aarde, die Munga (1 127 km van Bloemfontein na Wellington, tree as die genooide gids op vir die ekspedisie wat deur Travel Uncharted Tours aangebied word.

Vandeesweek se rit is bloot die eerste hiervan, met die volgende een wat vir 11-17 Februarie geskeduleer is.

“Beleef die Namibwoestyn soos nog nooit tevore nie. Dompel jouself in die ongerepte natuurskoon vanuit die saal van jou dikwielbergfiets, terwyl jy trap deur Namibië se Diamantkus wat ryk aan geskiedenis is, en deur van die grootste sandduine wat aan die mensdom bekend is,” word op die toer se promosiemateriaal geskryf.

“Hierdie toer is ontwerp vir die avontuurfietsryers op hul beste. Eke dag vereis deursettingsvermoë en elke aand onder die oop sterrehemel en langs ’n kampvuur is soos geen ander nie.”

’n Ondersteuningsgroep sal die ryers vergesel sover die terrein dit toelaat en ook vooruit ry om punte vir middagetes en die aand se kampeerplekke op te slaan.

Elke van die ses dae deur die Sperrgebiet en die Namib Naukluftpark bied sy eie hindernisse en sy eie asemrowende uitsigte, voordat die ryers in Walvisbaai klaarmaak.

Dit word verwag dat deelnemers fiks genoeg is en gereeld genoeg oefen om agt ure fiets te ry net ’n middagete en verversings tussenin, asook ervaring het van dikwielfietsry deur sagte duinesand, of bergfietsry in enkelspoorpaadjies.

Die Lüderitz na Walvisbaai word beskryf as taaier as die Wines2Whales in Suid-Afrika, effens taaier as ’n tweepersoon-spandeelname aan die Nedbank Desert Dash, maar nie heeltemal so erg as ’n solo-Dash nie.

“Die uitdaging is omtrent gelykstaande aan Suid-Afrika se Tankwa Trek of JoBerg2C, of kom naby aan die vasbyt wat in ’n Absa Cape Epic vereis word.

“Verskeie skeepswrakke, elkeen met sy eie storie, word op die eerste dag teëgekom. Die ruwe en soms rotsagtige strande bied genoeg kans vir die energiekes wat bietjie wil rondspeel en hul vaardighede op die proef stel.”

Die dae se verloop word nagenoeg soos volg bereken:

Dag een: 85 km (gemiddeld 15 km/h), sowat 5 ure 30 minute.

Dag twee: 90 km (gemiddeld15 km/h), sowat 5 ure 30 minute.

Dag drie: 80 km (gemiddeld 13.5 km/h), sowat ses ure. Op dié skof deur die Devil’s Workshop sal die ondersteuningsgroep net sekere strategiese punte die ryers kan bereik, wat ook gereed moet wees om hul fietse deur sekere dele te dra. Die sonsondergang en uitsig oor die see sal iets wees om na uit te sien.

Dag vier: 115 km, 7-8 ure afhangend van die windrigting. Net ’n smal strokie strand skei die oseaan van die bykans eindelose, hoë muur van Langewand-sandduine. Indien toestande ongunstig is, sal die ryers moet saamwerk om die skof klaar te maak.

Dag vyf: 115 km (gemiddeld 15-20 km/h, sowat ses ure). Die verskuiwende duine by Conceptionbaai, die skeepswrak van die Shawnee word deurgery voor die eindpunt by die strandmeer by Sandwich-hawe.

Dag ses (65 km), die laaste sowat 3 ure 30 minute voor die feesvierende middagete op Walvisbaai.

Deelname word tot 12 opbetaalde volwasse ryers per ekspedisie beperk.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!