Lukas-kamp reg vir jong leeu van VSA

Boks
Brian Ford word deur kenners as talentvol, maar ook wisselvallig beskryf.
Limba Mupetami
Die Namibiese veergewig Sakaria Lukas (Desert Storm) se voorneme is om sy Amerikaanse opponent Raymond Ford van die begin af op te keil wanneer hulle Saterdagaand in Cleveland, Ohio, om die Wêreldboksvereniging (WBA) se kontinentale titel van die Amerikas baklei.

Lukas en Immanuel (AC) Moses, sy afrigter en promotor het Sondag uit Namibië die lang reis aangepak.

Moses is vol vertroue dat sy 38-jarige bokser ’n oorwinning met ’n uitklophou op Amerikaanse bodem kan behaal. Hy het hul voorneme verklaar om vir Raymond die wêreld behoorlik warm te maak.

“Ek glo as jy in Amerika gaan boks, moet jy die man voor jou uitslaan as die oorwinning wil verseker en nie die beslissing aan die beoordelaars oorlaat nie.

“Desert Storm sal Raymond moet oorheers. Hy het skermoefeninge saam met Flame (Special One) Nangolo en Julius Indongo gehad. Hy sal sake vanaf die eerste ronde vir Ford ongemaklik moet maak,” het Moses gesê.

Op 23-jarige leeftyd is Ford (onoorwonne in 12 beroepsgevegte, met ses uitklophoue) sommer baie jonger as die Namibiër, wat reeds in 2011 professioneel begin boks het. Lukas was vir jare die WBO Afrika-kampioen en sy rekord staan op 25 oorwinnings (17 uitklophou, ’n enkele nederlaag met punte en een gelykopuitslag in Januarie vanjaar in die VSA.

Ford het vanjaar reeds twee mede-Amerikaners, Richard Medina (13-0) en Edward Vazquez (11-0), se onoorwonne record bederf.

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer