Malan en Viviers lig wenkbroue in rugbygroep

Rugby
Andrew Poolman
Die oproep na die vergete veteraan Casper Viviers wys hoe Namibië se rugbykeurders hul vinger op die pols hou vir stutte wat op die topvlak by volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Frankryk sal kan meeding.

Die 34-jarige Viviers is ingesluit in die nasionale groep van 48 spelers vir volgende maand se wedstryde.

Die Namibiërs speel op 5 November in Windhoek teen Griekwas in ’n vriendskaplike wedstryd om die Hage Geingob-beker. Onmiddellik hierna volg twee toetswedstryde – teen Spanje in Madrid op 12 November en teen Kanada in Amsterdam.

“Baie mense dink ek het uitgetree, maar ek speel nog die hele tyd rugby in Frankryk,” het Viviers gister aan die koerant gesê.

Viviers, ’n veteraan van 38 toetse sedert November 2010, was ’n lid van die 2015 Wêreldbekerspan in Engeland en was baie ongelukkig om in 2019 deur Phil Davies oor die hoof gesien te word ten gunste van jeugdiger stutte vir die 2019 WB-toernooi in Japan.

Viviers, ’n spesialis aan die vaskopkant wat ook ondervinding as loskop het, sê: “Ek is al vir bykans drie jaar by Nantes, in die Franse Federale 1-liga.

“Dit gaan goed met my rugby en ek is fiks en sonder beserings. Ek het ons laaste vier wedstryde 80 minute gespeel.

“My doelwit is om in volgende jaar se Wêreldbeker in Frankryk te speel en daarna te gaan boer.”

SENTERVONDS

Die 22-jarige Le Roux Malan se toetrede is ’n opwindende vooruitsig vir Namibië ná die onlangse onverwagse uittrede van JC Greyling.

Malan is ’n gebore Windhoeker wie se rugbyloopbaan by Paarl Gimnasium, UCT Ikeys in die Varsitybeker en die Natal Haaie in die SuperSport Uitdaagreeks behoorlik vlamgevat het.

Vanaf Februarie tot Junie vanjaar het hy in sy eerste seisoen in die VSA vir die New England Free Jacks gespeel (met Wian Conradie as ’n spanmaat) en het vyf drieë in 17 wedstryde gedruk.

As ’n buitesenter vol selfvertroue het hy goeie vaartversnelling, stewige verdediging en ’n goed ontwikkelde balverspreidingsvermoë. Dit kan inderdaad ’n betekenisvolle skuif wees om hom as toetsspeler vir Namibië vas te knoop voordat hy byvoorbeeld oor ’n jaar of twee vir die VSA se Eagles kwalifiseer.

AFWESIGES

Die 31-jarige Johann Tromp (Strela Kazan in Rusland) het sy internasionale uittrede aangekondig ná 45 toetse met 19 drieë, terwyl die stut Desiderius Sethie (Unam) deur ’n kniebesering gepla word.

Chrysander Botha, hulpafrigter van Namibië, sê die 28 spelers vir die toer na Europa sal ná die Griekwas-wedstryd aangekondig word.

“Casper is op 34 nog in die fleur van ’n stut se loopbaan, met jare se ondervinding in Frankryk. Ons jonger stutte kan gewis by hom leer.”

Botha het onthul dat Anton Bresler, slot van Racing 92 in die Franse Top 14, besig is om sy Namibiese burgerskap af te handel.

Die slot Tjiuee Uanivi wat in Julie onttrek het voor die kwalifiserende WB-toernooi, speel tans vir Montauban in die Franse Pro D2. “Tjiuee en Anton is gefokus op hul klubverpligtinge, maar behoort beide volgende jaar vir ons toetse beskikbaar te wees.”

DIE GROEP

Stutte: Jason Benade (Unam), Chemigan Beukes (Western Suburbs), Aranos Coetzee (Cheetahs / Bath), Jano Otto (United), Casper Viviers (Nantes), Nelius Theron (Grootfontein), Herschell van Wyk (Wanderers).

Hakers: Wikus Jacobs (Grootfontein), Obert Nortje (Wanderers), Louis van der Westhuizen (Cheetahs), Torsten van Jaarsveld (Bayonne).

Slotte: Max Katjijeko (Tel Aviv Heat), Adriaan Ludick (Limoges, Frankryk), Ruan Ludick (Pamiers, Frankryk), Johan Luttig (Grootfontein), Johan Retief (Griekwas), Diamando Tjombe (Western Suburbs), Pieter-Jan van Lill (Valence Romans).

Losvoorspelers: Adriaan Booysen (Dallas Jackals), Wian Conradie (New England Free Jacks), Prince !Gaoseb (Tel Aviv Heat), Joshua Jacobs (Kudus), Cameron Langenhoven (Kudus), Oderich Mouton (Unam), Bakkies Rossouw (Steaua Bucuresti, Roemenië), Janco Venter (Griekwas), Darius von Solms (Wanderers).

Skrumskakels: Oela Blaauw (United), Helarius Kisting (Baia Mare, Roemenië), Damian Stevens (New Orleans Gold), Jacques Theron (Wanderers).

Losskakels: Cliven Loubser (Rehoboth, Utah Warriors), P.W. Steenkamp (Orkan Sochaczew, Pole), André van der Berg (Wanderers).

Senters, vleuels en heelagters: Danco Burger (Orkan Sochaczew, Pole), Johan Deysel (Colomiers), Alcino Izaacs (Unam), Lesley Klim (Unam), Lorenzo Louis (Unam), Warren Ludwig (Wanderers), Le Roux Malan (New England Free Jacks), Gerswin Mouton (Wits Universiteit), Justin Newman (Kudus), Chad Plato (Kudus), Divan Rossouw (Goue Leeus), Milaan van Wyk (New Mexico Tech, VSA), PJ Walters (Kudus), Darryl Wellman (Unam).

Kommentaar

Republikein 2025-01-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 28° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 22° | 37° Oshakati: 24° | 36° Ruacana: 20° | 37° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 21° | 34° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 22° | 33° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 16° | 30° Ariamsvlei: 19° | 35° Oranjemund: 15° | 23° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 26° Lubumbashi: 17° | 28° Mbabane: 17° | 23° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 18° | 24° Lilongwe: 19° | 31° Maputo: 23° | 33° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 24° Johannesburg: 17° | 24° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 29° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!