Malawi straf o.17-meisies ewe hard

Jeugspele
Die twee reusetellings waarmee die Namibiese o.17-meisiesokkerspan by die Cosafa-toernooi in Lilongwe afgeransel is, is waarskynlik kommerwekkend vir diegene wat die toekoms van dié vrouesport op die hart dra.

Die Namibiese meisies is gister met ’n lelike 12-0 deur Malawi afgeransel.

Nadat Namibië twee dae tevore met dieselfde telling teen Suid-Afrika verloor het, was dit duidelik dat Malawi kompeterend sou wees nadat dié gasheerland van die Streek 5 Jeugspele se meisies met net 4-1 teen Suid-Afrika verloor het.

SEUNS

Die Cosafa o.17-sokkertoernooi vir seuns dien ook as kwalifisering vir dié ouderdomsgroep se Afrika Nasiebekertoernooi wat volgende jaar in Algerië aangebied word.

Die Namibiese seuns het Sondag met 2-1 teen Malawi verloor, nadat sake rustyd met 1-1 gelykop was.

Die Namibiërs speel vandag teen Botswana (12:00) en kan steeds met ’n oorwinning seker maak dat hulle die volgende rondte haal.

NETBAL

Beter nuus vir Namibië was op die netbalbaan, waar die Namibiese o.17-span Sondag met 37-32 teen Botswana aan die wenkant was.

Die Namibiërs, afgerig deur die gewese senior nasionale kaptein Jatjinda (Toetsie) Tjihero, het blitsig weggespring om die eerste kwart op 12-3 af te sluit. Die rustydtelling was 20-13, terwyl Namibië ná die derde kwart met 29-20 voorgeloop het.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer