Mane, Senegal dra Afrika se hoop

WB 2022 Katar
Die Wes-Afrikane is teen Ecuador, Katar en Nederland gegroepeer.
Tielman Van Lill
Senegal open sy aanslag op die 2022 Fifa Wêreldbeker-sokkertoernooi komende Maandag teen Nederland by die Al Thumama-stadion in Doha, Katar.

Die Leeus van Teranga is een van vyf Afrika-lande wat die kontinent by die elite-kompetisie verteenwoordig. Tunisië se Arende van Carthage (groep D), die Atlas-Leeus van Marokko (F), Kameroen se Ontembare Leeus (G) en Ghana se Black Stars (H) voltooi die prentjie.

Senegal sal in hul tweede kragmeting op 25 November teen die gasheerland getoets word, terwyl Ecuador op 29 November vir hul derde en laaste groepwedstryd aan die beurt kom.

Nederland word tans deur Fifa as die tiende beste span ter wêreld gereken en kan Senegal (18de) hoofbrekens besorg. Senegal is nietemin die hoogs gerekende Afrika-sokkerland en kan Katar (52ste) en Ecuador (44ste) met ’n tikkie geluk uitskakel om as naaswenner van groep A na vore te tree.

Indien hulle suksesvol is, kan Senegal soos in 2002 opnuut in die kwarteindrondte haal. Vier jaar gelede in Rusland

Die twee kwalifiseerders uit groep A sal in die rondte van 16 oorkruis teen groep B se bestes sake moet uitspook. Laasgenoemde groep bestaan uit Engeland (vyfde op die ranglys), Iran (20ste), die VSA (16de) en Wallis (19de).

Afrika se beste span oor die afgelope 18 maande sal in Katar met ’n soliede en ervare kern sy aanslag met kaptein Sadio Mane maak. Ses van sy spelers beskik oor waardevolle Wêreldbeker-ervaring in Rusland 2018.

Senegal was toe weens te veel geelkaarte onseremonieel ten gunste van Japan uit die laaste Wêreldbeker geboender. Dié pynlike herinnering sal as motivering vir Senegal dien.

Greg Lea skryf op www.fourfourtwo.com: “Senegal se verdediging is sy groot sterkpunt. As bewys het hulle net twee doele op pad na AFCON-glorie afgestaan en ’n skamele vyf in agt Wêreldbeker-kwalifiseringswedstryde.

“AC Milan se Fode Ballo-Toure het stilweg uitgeblink en Monaco se Ismail Jakobs is ook nou vir Senegal beskikbaar. Die middel-agterspelers Abdou Diallo en Kalidou Koulibaly is gereelde kompeteerders in die Europese Kampioeneliga. Koulibaly is vir Chelsea voor die voortreflike Eduoard Mendy ingespan.

“Aan die regterkant is Youssof Sabaly van Real Betis ’n goeie adjunk vir Bouna Sarr van Bayern München, wat ’n knie-operasie gehad het.

“Hulle bring ongelukkig voortdurend verandering in die middelveld aan. Cheikhoiu Kouyate en Idrissa Gueye is straks verby hul beste. Pape Matar Sarr moet nog syne bereik, en Nampalys Mendy het waarskynlik nog nooit een gehad nie.

“Aliou Cisse, hoofafrigter van Senegal, se rustige waardigheid het hom die respek van sy spelers asook die Senegalese Sokkervereniging en ondersteuners besorg. Min Afrika-lande hou sewe jaar lank by ’n afrigter. Dié voormalige middelveldspeler van Birmingham en Portsmouth het vroeër vanjaar sy land hul eerste AFCON-titel besorg. Nou word van hom en Senegal verwag om aan die hoof van Afrika se aanval in Katar te staan.

“Die briljante 30-jarige doelskieter en Ballon d'Or-aanspraakmaker, Sadio Mane, is ’n blitsige en intelligente speler wat met sy voorbeeld lei. Sy nederigheid en finesse het vanjaar sy internasionale aansien meer as tevore laat toeneem.”

Cisse se 26 uitsoekspelers vir Katar is:

Doelwagters: Edouard Mendy (Chelsea), Alfred Gomis (Rennes) en Seny Dieng (QPR).

Verdedigers: Kalidou Koulibaly (Chelsea), Pape Abou Cisse (Olympiacos), Fode Ballo-Toure (AC Milan), Ismail Jakobs (Monaco), Formose Mendy (Amiens), Abdou Diallo (RB Leipzig) en Youssouf Sabaly (Real Betis).

Middelveldspelers: Idrissa Gueye (Everton), Pathe Ciss (Rayo Vallecano), Cheikhou Kouyate (Nottingham Forest), Pape Gueye (Marseille), Krepin Diatta (Monaco), Nampalys Mendy (Leicester City), Pape Matar Sarr (Tottenham), Mamadou Loum (Reading) en Moustapha Name (Pafos).

Voorspelers: Sadio Mane (Bayern München, kaptein), Boulaye Dia (Salernitana), Bamba Dieng (Marseille), Ismaila Sarr (Watford), Iliman Ndiaye (Sheffield United), Famara Diedhiou (Alanyaspor) en Nicolas Jackson (Villarreal).

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!