• Tuisblad
  • Sport
  • Manie hou kop om Stormers doodsnik-wen oor Ulster te gee

Manie hou kop om Stormers doodsnik-wen oor Ulster te gee

Rugby
Stephen Nell
Die skare in die DHL-stadion in Kaapstad het 80 minute gewag vir die ware Manie Libbok om na vore te tree.

Die Stormers se losskakel was erg van stryk, maar toe dit in die doodsnikke van die halfeindstryd in die Verenigde Rugbykampioen­skap teen Ulster op sy skouers gerus het om die wedstryd met ’n doelskop te beklink, was hy komkommerkoel.

Dit het aan die Kapenaars ’n broekskeur-oorwinning van 17-15 besorg. Hulle speel komende naweek gasheer vir die Bulle in die eindstryd.

Vir meer drama kon die skare nie gevra het nie. Die Stormers het met hul wendrie – deur Warrick Gelant afgerond – net 14 spelers op die veld gehad nadat Adré Smith 10 minute voor die einde met ’n rooi kaart vir vuil spel gestraf is. Net daar het dit gelyk asof dit die einde van die Stormers sou wees, maar hulle het die Iere neergepen en uiteindelik die drie gekry wat hulle verdien het.

Die Stormers het die wedstryd uitstekend begin en was ná net 15 minute met 10-0 voor. Hulle het die lynstane as ’n platform vir albei drieë gebruik – JJ Kotze het van ’n dryfmaalbeweging afgerond voordat Evan Roos van ’n beplande beweging, steelkant om gedruk het.

Behalwe vir die 10 punte op die telbord, was dit straks ook ’n sielkundige hou met die Stormers wat die besoekers op hul eie sterkpunt geklop het.

Die Iere was buite hul gemaksone, maar het die nodige ervaring gehad om uit die moeilikheid te kom. Dalk ook met ’n bietjie hulp van die wedstrydbeamptes, wat blind was vir ’n vorentoe aangee voordat Rob Baloucoune hul eerste drie in die regterhoekie gedruk het.

Nietemin sou die Stormers hulle nie in daardie posisie bevind het as Salmaan Moerat nie vir Ulster die platform gegee het deur ’n lynstaanspringer in die lug te speel nie.

John Dobson, die Stormers se afrigter, het juis vooraf gewaarsku oor strafskoppe wat “in die middel van die veld” afgestaan word. Ulster is op hul gelukkigste wanneer hulle die bal kan uitskop vir lynstane diep in teenstanders se kwartgebied.

Met die drie wat Ulster die voorsprong gegee het, kon egter nie fout gevind word nie. Trouens, dit was baie goeie agterspel wat Stewart Moore oorgestuur het. Hierdie keer het John Cooney nie ’n fout met die doelskop gemaak nie en hy het daarna met ’n strafskop geslaag om die rustydtelling van 15-10 te maak.

Die Stormers het vyf minute voor rustyd ’n groot terugslag gehad toe die blits, Leolin Zas, beseer is en met Godlen Masimla vervang moes word. Masimla se dagtaak is skrumskakel, maar Dobson het nie veel van ‘n keuse gehad nie omdat hy weer net twee agterspelers op die plaasvervangersbank gekies het.

Die Stormers het genoeg geleent­hede gehad om nóg drieë in die eerste helfte aan te teken, maar het die bal te vinnig wyd geskuif en Ulster het hulle sonder veel moeite hok geslaan.

Ulster was aanvanklik in die tweede helfte op die voorvoet en het die Stormers by die afbreekpunte opgekeil. Dit het gelyk asof Ulster die hef in die hand het, maar die Stormers het die aanslag oorleef en al hoe sterker geword.

Daar was ’n yslike sug toe Smith sy rooi kaart gekry het. Of hy Iain Henderson se oë probeer uitkrap het, is ’n ope vraag, maar jy soek vir moeilikheid as jou hand in ’n teenstander se gesig is. Ulster kon nie vir ’n beter geleentheid gevra het om die wa deur die drif te trek nie.

Dit was egter asof die Stormers sterker eerder as swakker geword het. Hulle het as’t ware in Ulster se kwartgebied kamp opgeslaan en vir lank verbete aangeval voordat die Ierse span nie meer kon uithou nie.

Puntemakers:

Stormers 17 (10): Drieë: JJ Kotze, Evan Roos, Warrick Gelant. Doelskop: Manie Libbok.

Ulster 15 (15): Drieë: Rob Baloucoune, Stewart Moore. Doelskop: John Cooney. Strafdoel: Cooney.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!