Manspan takel streektoernooi
Gholf
Die nasionale senior manspan van die Namibiese Amateur Gholfunie (Nagu) vertrek vandag vir hul deelname aan komende naweek se Afrika Streek 5-toernooi in Lilongwe, Malawi. Die toernooi word komende Vrydag en Saterdag beslis. By gister se ontvangs van hul nasionale kleure by die hoofkantoor van die Namibiese Sportkommissie staan (voor van links) Stefanus Bonifatius, Edwin Kutara (spankaptein), Salome Iiyambo (Sportkommissie ontwikkelingsbeampte) en die junior Todd Parker, die nuweling in die span. Agter staan Marco Swarts (spanbestuurder) en Walter Heibeb. “Ons span is goed voorbereid. Ons het sover vier van die 12 jaarlikse Nagu-toernooie afgehandel en in omtrent elke geval het die spanlede in die topvyf klaargemaak,” het Kutara gesê. “Ek en die meeste van die spanlede het ook ondervinding van vorige deelname in Afrika-toernooie. Todd Parker se opgang as ’n junior die afgelope twee jaar is ook welbekend en sy eerste insluiting in die senior span is nie ’n verrassing nie.” Volgens Swarts word die spanne van Suid-Afrika, Angola, Zimbabwe, Zambië, Mosambiek, eSwatini en Lesotho in Malawi verwag. Foto Mariud Ngula
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie