Marzaan in Proteas se wenspan teen Amerikaners

Perdesport
Die tienerjarige Windhoeker se lys prestasies in die perdesport het die afgelope week aangegroei.
Andrew Poolman
Marzaan Visser van Windhoek wat vroeër vanjaar as 14-jarige die gesogte titel as Kampioen van Kampioene by die Suid-Afrikaanse nasionale saalperdkampioenskap in Bloemfontein ingepalm het, het in Augustus vanjaar ook in die Vrystaat aan Suid-Afrika se nasionale proewe vir Protea-kleure deelgeneem.

Ses provinsies se ruiters van oral in Suid-Afrika het daar oor ’n tydperk van vyf dae meegeding onder toesig van ’n paneel beoordelaars vir ’n plek in die Proteas-ruiterkunsspan, van wie net die topvyf ruiters gekies is.

Ná afloop van die proewe is Marzaan Visser as die nommer een ruiter vir die SA Proteas senior driegang ruiterkunsspan gekies en op grond hiervan is sy ingesluit in die span wat die afgelope week in Parys, Vrystaat, teen die VSA se vyf uitsoekruiters in ’n internasionale kompetisie meegeding het.

Vir die vyf ruiters elk van Suid-Afrika en die VSA was dag 1 en 2 oefendae. Die ruiters se perde is uit ’n hoed geloot en geen ruiter mag op haar eie perd, of eie stalle se perd ry nie.

Ruiters kry net 20 minute om op die toegekende perd te “oefen” en tegniese ontledings te doen.

Op dag 3 ry ruiters kompetisie op die perde wat hulle op dag 1 geloot en geoefen het. Tien ruiters volg die reëlings van die baan (“rail work”) waar ruiters se vermoë getoets word om die perd tot sy beste te skou, asook om hulself as ruiter te vertoon en die regte postuur te behou.

Hierna verlaat ruiters die baan en kom een vir een in om hul toetsdiagram te voltooi wat deur die beoordelaars bepaal is. Geen merkers vir die toetse word langs die baan uitgemerk nie. Die ruiter moet hul merke denkbeeldig visualiseer en onthou, die perd se gang in elke segment bepaal asook deurentyd vorm behou. Perdekennis is van die hoogste belang in die sport.

Suid-Afrika se driegang- en vyfgangspan het die goud teen die VSA se span verower. Saddle Seat SA sien uit na volgende jaar se Wêreldbeker wat ook in Parys in die Vrystaat aangebied sal word.

Die proewe vir die 2024 Wêreldbekerspanne sal in Februarie gehou word, waar ses ruiters van elke land gekies sal word om in die Wêreldbeker deel te neem. Marzaan sien daarna uit om volgende jaar die Proteas se senior span by die Wêreldbeker te verteenwoordig.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!