Masilingi die trekpleister in die noorde
Atletiek
Vir senior en skole-atlete lê 'n druk naweek voor, mits die weer saamspeel.
Die Rietfontein-atletiekbaan, sowat 35 kilometer wes van Grootfontein, is die plek waar Atletiek Namibië se vierde Grand Prix vir die seisoen môreoggend aangebied word.
Afrigter Henk Botha het bevestig dat die 18-jarige Beatrice Masilingi vir die 200 meter sal aantree – wat gewis ’n groot trekpleister vir toeskouers sal wees.
Die talentvolle naelloper wat verlede jaar in Tokio die Olimpiese finaal in dié afstand en sesde geëindig het, is saam met haar ewe gedugte oefenmaat Christine Mboma aan die opbou vir nog ’n uitdagende seisoen van internasionale deelnames wat binnekort begin.
Masilingi is die nasionale rekordhouer in die 100 meter (11.20), wat sy laas Augustus met haar silwermedalje by die o.20-wêreldkampioenskap in Nairobi behaal het. Drie dae later het sy in die 200 meter selfs nog vinniger as in die Olimpiese finaal genael vir haar persoonlike beste wat tans op 22.18 staan – teenoor Mboma se nasionale en Afrika-rekord van 21.78.
Soos gewoonlik behoort die 200 meters vir mans en vroue die enigste item te wees waarin meer atlete inskryf as wat in ’n enkele finaal hanteer kan word. Die deelnemers word dan in uitdunne geplaas op grond van hul beste vorige tye, met die beste tye van die dag wat met die louere wegstap.
Sover verneem word, behoort verskeie ander van die land se beste baan- en veldatlete die reis na die noorde aan te pak – spesifiek diegene wat opbou na ’n aanslag op kwalifisering vir die Statebondspele wat einde Julie in Birmingham begin.
Die skedule vir die dag:
09:30, vroue 5000 meter; vroue gewigstoot; vroue verspring.
10:00, mans 5000 meter.
10:30, vroue 800 meter.
10:45, mans 800 meter.
11:00, mans verspring; mans gewigstoot; vroue 200 meter.
11:30 mans 200 meter.
12:00, vroue 1500 meter.
12:15, mans 1500 meter.
12:30, vroue 4x400 aflos.
12:45, mans 4x400 aflos.
SKOLE BY EDUGATE SAAM Edugate Akademie van Otjiwarongo is môre by die Paresis-baan die gasheer vir ’n Prestige-streekbyeenkoms waaraan verskeie skole bestem is om deel te neem. Die ouderdomsgroepe strek vanaf onder 7 tot o.13, asook die hoërskoolgroepe o.15 tot o.19. Veral vir die jonger beginners is pretnommers soos krieketbalgooi, verspring vanuit ’n staande posisie en pendelaflos ook op die program ingesluit, afgesien van die meer ernstige items soos die naellope, hekkies, verspring, hoogspring, gewigstoot en middelafstande Hollard en Securitas tree as borg op vir die byeenkoms op Otjiwarongo, wat môre vanaf 08:30 tot 18:00 duur. Die lang en indrukwekkende lys van deelnemende skole en klubs beloof ’n baie kompeterende geleentheid: Edugate Academy, Privaatskool Moria, Edugate Otji-klub, Athletics Development Club (Swakopmund), Karstveld Academy, Tsumeb Gimnasium, Goedehoop Privaatskool, Otjiwarongo Christian School, Roots Gimnasium, Windhoek Gimnasium, Privatschule Otjiwarongo, Berg-Op Akademie, Shalom Primary School, QSB-atletiekklub en Gobabis, asook individuele inskrywings.
NAPSO OP STAMPRIET Op Stampriet is die Privaatskool Elnatan vandag die gasheer vir ’n streekbyeenkoms van NAPSO (die Namibiese Privaatskole-organisasie), met Santam en die Wimpy Engen 1-Stop op Mariental as borge. Die ouderdomsgroepe is vanaf onder 7 tot o.19. Die byeenkoms is oop vir privaatskole van oral in die land. NAPSO bied aanstaande naweek nog twee streekbyeenkomste aan – by Tsumeb Gimnasium asook by Walvisbaai Privaat Hoërskool. Al die geleenthede bou op die grote op 11 en 12 Maart by Pro-Ed Akademie (by The Dome se baan op Swakopmund) waar atlete vir die NAPSO-span kan kwalifiseer en die bestaande NAPSO-rekords uitdaag.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie