Mboma bly eers in watte toegedraai

Atletiek
Die mees hoopvolle scenario is dat die Olimpiese naelloper dalk volgende jaar weer die krane voluit sal kan oopdraai.
Tielman van Lill
Christine Mboma, Namibië se atletiekprinses, se 2022-seisoen is noodgedwonge iets van die verlede.

Vanweë die erns van ’n beenspierbesering sal die 19-jarige naelloper nie weer vanjaar in die wegspringblokke sak nie, is gister aan die koerant bevestig.

Mboma is vroeg in Mei beseer. By die Kip Keino Classic-atletiekbyeenkoms in Nairobi het sy vir die 100 meter teen Shelly-Ann Fraser-Pryce van Jamaika genael toe die noodlot toegeslaan het.

Mboma is halfpad deur die wedloop beseer en skeur ’n bobeenspier, wat haar deelname in 2022 ernstig benadeel. Sy het wel in Suid-Afrika behandeling vir die besering ontvang en hoewel sy by die Statebondspele in Birmingham ’n brons in die 200 behaal het, was sy ooglopend nie naby aan haar wêreldklas beste peil nie.

Mnr. Henk Botha, haar afrigter, het gister gesê: “Ons is klaar met die 2022-atletiekseisoen. Ek en Christine het saam besluit sy sal nie weer vanjaar hardloop nie.

“Ons beplanning vir die volgende seisoen is afgehandel en Christine rus nou tot sy weer vroeg in Oktober met ’n voorseisoenprogram kan begin. Sy sal dan reg wees vir die 2023 Wêreldkampioenskap in Augustus in Boedapest, Hongarye.

“Die spier wat Christine beseer het (rectus femoris), is heeltemal afgeskeur en groei nie weer aan nie. Dit moet met ’n operasie herstel word. Maar ons wil kyk hoe die verswakte spier haar spoed beïnvloed het en as dit nodig is, sal ons ’n prosedure oorweeg.

“Haar besering is in Suid-Afrika verkeerdelik as ’n graad 2-skeur aan die bobeenspier gediagnoseer, wat deur verskeie spesialiste bevestig is. Daar is nie MRI-skanderings gedoen soos ek belowe is nie en dit het die rehabilitasieproses negatief beïnvoel het.

“Ons beoog byeenkomste volgende jaar waar sy aan die 100 en 200 meters kan deelneem. Maar die organiseerders kon my nog nie met sekerheid sê watter dit gaan wees nie.

“Ons wil graag aan die Diamantligafinaal in die VSA deelneem. Ons oorweeg nie om volgende jaar op die 100 te konsentreer nie, maar dit is ’n moontlikheid om Christine vir ’n paar van die korter naellope te laat aantree.”

AGTERGROND

Haar atletieksprokie het Namibië verlede jaar soos ’n vars weskusbriesie getref toe sy eenklaps van ’n so-so middelafstandatleet tot ’n internasionale wêreldklas naelloper ontwikkel het. Eers in die strawwe 400 m en ’n paar maande later die 200 by die Olimpiese Spele in Tokio waar sy ’n silwermedalje verower het.

Haar astronomiese opgang het die atletiekwêreld begin verstom toe sy in April 2021 by die All Comers-byeenkoms by die Heroes-stadion in Lusaka, Zambië, die 400 in 49.24 sekondes gewen het. Dit was beter as die Oos-Duitse atleet, Grit Breuer, se o.20-wêreldrekord van 49.42 in Augustus 1991.

Ses dae later (17 April) by Atletiek Namibië se nasionale senior kampioenskap in die Onafhanklikheidstadion in Windhoek het sy opnuut ’n wettige 49.22 aangeteken.

Op 30 Junie nael sy 48.54 in Bydgoszcz, Pole, by die Irena Szewinska Memorial-byeenkoms.

Mboma, toe 18 jaar oud, se verstommende tyd was toe slegs 0.94 sekondes stadiger as Marita Koch se senior wêreldrekord (47.60) wat sedert 1985 staan.

Weens natuurlike hoë testosteroonvlakke was dit was die einde van Mboma se deelname aan die 400 toe Wêreldatletiek besluit het om haar toekomstige mededinging in die item te stop.

Maar dié wunderkind het haar nie laat keer nie. Haar fokus verskuif na die 200, waarin sy ook met oortuiging vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer het. In Tokio behaal sy in die uitdun 22.11, in die semifinaal 21.97 en die finaal 21.81 (silwermedalje) vir ’n nuwe o.20-wêreldrekord.

Op 9 September by die Diamantligafinaal in Zürich, Switserland, rek sy opnuut haar treë vir 21.78 om as die 200-Diamantkampioen vir 2021 gekroon te word. Hiermee draai sy net 0.44 sekondes kort van wyle Florence Griffith-Joyner (VSA) se senior wêreldrekord van 21.34! (September 1988).

SEISOEN 2022

Vanjaar het Mboma die eerste keer met enige erns aan die 100 begin deelneem. Met die senior Wêreldkampioenskap en Statebondspele in gedagte, was dit hoofsaaklik om haar spoed vir die 200 te verbeter. Maar in Januarie word Mboma weer die middelpunt van aandag toe sy op seevlak in Swakopmund die 100 met 11.25 teen Beatrice Masilingi wen.

Dit was opnuut ’n “nuwe” Mboma wat heelwat vinniger as voorheen uit die wegspringblokke was, en sy het oor die eerste 30 m reeds verstommend versnel en haar vaart tot by die wenpaal gehandhaaf.

Op 15 April hardloop sy ’n wettige 11.03 in die VSA en twee weke later in Gaborone klok sy met ’n blitsige 10.97 in. Sy wys ook in die 200 met 21.87 in Botswana dat sy reg vir die wêreld se room is.

Nie net Namibiërs nie, maar die hele internasionale atletiekwêreld het gegons en reusewelslae vir haar in 2022 voorspel.

Marlies Oelsner (Göhr) van Duitsland se o.20-wêreldrekord op 1 Julie 1977 in die 100 (10.88) sou beslis een of ander tyd deur Mboma oortref word. En dit terwyl sommige bitterbekke steeds knaend oor haar testosteroonvlakke bly teem het.

HOOPVOL

Indien Mboma se herstel en fiksheid dit toelaat, is byeenkomste waaraan sy moontlik in 2023 kan deelneem soos volg.

29 April Diamantliga in Sjanghai (China).

6 Mei Kip Keino Classic, Nairobi (Kenia).

19 Mei Diamantliga, Doha (Katar).

28 Mei Diamantliga, Rabat (Marokko).

2 Junie Diamantliga, Rome (Italië).

9 Junie Diamantliga, Parys (Frankryk).

30 Junie Diamantliga, Lausanne (Switserland).

18 Julie Kontinentale Toer, Boedapest (Hongarye).

19 tot 27 Augustus Senior Wêreldkampioenskap, Boedapest.

15 September Diamantliga, Eugene (VSA).

Kommentaar

Republikein 2025-01-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 28° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 22° | 37° Oshakati: 24° | 36° Ruacana: 20° | 37° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 21° | 34° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 22° | 33° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 16° | 30° Ariamsvlei: 19° | 35° Oranjemund: 15° | 23° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 26° Lubumbashi: 17° | 28° Mbabane: 17° | 23° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 18° | 24° Lilongwe: 19° | 31° Maputo: 23° | 33° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 24° Johannesburg: 17° | 24° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 29° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!