Mahmad Bock (voor) en André Retief het beide tot die Afrika-kampioenskap deurgedring. Foto Nampa
Mahmad Bock (voor) en André Retief het beide tot die Afrika-kampioenskap deurgedring. Foto Nampa

Mboma en Bock blinkste in naellope

Atletiek
Mahmad Bock het Saterdag in Gaborone met ’n sensasionele vertoning die Namibiese 400 meter-mansrekord wat vir ’n volle 42 jaar gestaan het, oortref.

Terwyl Christine Mboma welverdiend die hoofopskrifte gemaak het met haar uitmuntende oorwinnings, rekords en volgehoue verbetering in die 100 en 200 meters, het Bock vir ’n deurbraak soos min gesorg.

Bock was tweede in die 400 meter by die Gaborone Internasionale atletiekbyeenkoms (met Wêreldatletiek Kontinentale Toer Brons-status) ná Botswana se Anthony Pesela (45.62 sekondes) – maar met sy 45.80 het hy die vorige Namibiese rekord oortref wat vir meer as vier dekades ongeskonde bly staan het.

Daniel Haitembu se vorige beste merk van 46.14 is op 26 April 1980 in Bloemfontein opgestel.

Bock (Unam-atletiekklub) was verlede maand by die Namibiese nasionale kampioenskap derde, maar het dié keer voor Ivan Danny Geldenhuys (46.55, vierde) geëindig. Na dese het Bock, Geldenhuys én André Retief (46.17 vir die tweede plek in die C-wedloop) die kwalifiserende merk vir die senior Afrika-kampioenskap in Mauritius behaal.

Bock het gister aan die koerant gesê: “Die gedagte was om myself teen die bestes te bevestig en te wen. My afrigter Erwin Naimhwaka het my reg voorberei en gesê daai rekord moet val! Ons het dit al in oefeninge baie gedoen, so dit was net om dit op hoër vlak te wys.

“Ek raai Namibiese maatskappye en die regering aan om in ons atlete te belê – individueel en as ’n nasionale span – om Mboma en Frankie Fredericks se vlakke uit die atlete te kry, want nou is die regte tyd terwyl die atlete so ’n sterk selfvertroue het.

“Ons sit baie tyd in – soms dubbele sessies, hoewel vele werke dit toelaat nie.

“Ek sien myself as ’n wêreld se beste atleet en wil meer internasionale kompetisies bywoon om ook te kan leer en bewys dat ja, Namibiërs kan ook wen.”

KRAGTOER

Haar oefenmaat Beatrice Masilingi het vanweë ’n ligte dyspierbesering aan die 200 onttrek – maar al wat ’n rekordlys is, moes opnuut byderhand gehou word toe Christine Mboma eers die 100 en daarna die 200 meter met ’n verskil van etlike meters voor die volgende naelloper gewen het.

Die 18-jarige Mboma se wentyd in die 200 meter (21.87) is die vinnigste ter wêreld vanjaar, voor Favour Ofili van Nigerië se 21.96 s). Haar beste in die afstand en senior Afrika-rekord bly die 21.78 waarmee sy verlede jaar die Diamantliga-kroon beklink het.

Mboma is nou ook die nuwe Namibiese rekordhouer in die 100 meter (10.97) – wat ook die o.20 Afrika-rekord is. Die einste Ofili het Saterdag in Los Angeles met ’n 10.93 (vinnigste Afrika-vrou sover vanjaar) vorendag gekom.

Van die ander voorste uitslae van die Namibiërs:

Mans 5000 meter: Daniel Paulus eerste, 13 minute 54.82 sekondes.

Mans verspring: Chenoult Coetzee tweede 7.48m, Sandro Diergaardt vyfde 7.25m.

Vroue verspring: Frieda Ithete derde, 5,76 m.

Vroue 1 500m: Saara Shikongo vierde, 4:39.72. Nyanyukweni Frans vyfde, 4:43.52.

Mans 100 (C): Gilbert Hainuca tweede 10.36.

Mans 200: Ernst Narib sewende, 21.47.

Mans 800: David Dam sesde, 1:48.63.

Mans 4x100 aflos: Namibië sesde (Hatago Murere, Warren Goreseb, Mahmad Bock, Gilbert Hainuca) 40.48.

Vroue 4x100 aflos: Namibië derde (Nandi Vass, Johanna Ludgerus, Carien Oosthuizen, Ndawana Haitembu) 46.14.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!