• Tuisblad
  • Sport
  • Mboma mag meeding ... maar oefenbaan bly gesluit

Mboma mag meeding ... maar oefenbaan bly gesluit

Atletiek
Die bal is nou in administrateurs en regeringsbeamptes se baan om te verseker dat Christine Mboma en haar mede-atlete van oefenfasiliteite voorsien word.
Tielman Van Lill
Christine Mboma, Namibië se Olimpiese silwermedaljewenner in Tokio 2021 en onder 20-wêreldrekordhouer, het amptelik die groen lig van Wêreldatletiek (WA) gekry om weer aan die 100 meter en 200 meter te kan deelneem.

Dit kom nadat Mboma en ander DSD-atlete in April vanjaar tydelik deur ’n spesiale nuwe regulasie van WA verhoed is om enigsens in 2023 aan kompetisies deel te neem.

Met die Olimpiese Spele in Parys, Frankryk, op die horison, het die 20-jarige Mboma nou sewe maande oor om behoorlik voor te berei en te kwalifiseer vir die Spele wat van 26 Julie tot 11 Augustus 2024 voorlê.

Hoewel die groen lig van Wêreldatletiek onmiddellik van krag is en beteken dat sy uitnodigings na groot byeenkomste mag ontvang, is haar pad terug na die topvlak van die sport steeds nie sonder hindernisse is.

Een groot uitdaging is dat die kwalifiseringsperiode vir die Spele reeds op 1 Julie 2023 begin het en op 30 Junie 2024 sluit. Die kwalifiserende tye is 11.07 sekondes in die 100 en 22.57 in die 200.

Mboma is sedert April 2022 deur die regulasie, asook ’n ontydige besering, weerhou om aan kompetisies deel te neem. ’n Uitsondering is toegestaan vir die Statebondspele in Augustus 2022 in Birmingham, waar sy nogtans die bronsmedalje in die 200 verseker het.

Dis geen eenvoudige taak om ’n atleet in so ’n kort tyd voor te berei om weer internasionaal mededingend te wees nie – selfs met Mboma se uitsonderlike talent in ag geneem.

Die Onafhanklikheidstadion beskik egter oor die enigste tartan-atletiekbaan in Windhoek waar Mboma kan oefen. Maar weens die sluiting van dié stadion in die opbou na die Dr. Hage Geingob-bekergeleentheid laas Saterdag, kon sy sedert 16 Oktober nie daar oefen nie.

Die stadion was tot gister steeds nie vir baan- en veldatlete oopgestel nie.

Henk Botha, afrigter van Mboma, het gister aan Republikein gesê die kwessie van oefenfasiliteite bereik nou breekpunt.

“Ons mag glo glad nie daar oefen nie en dis nou al meer as ’n maand. Ek is geweldig bekommerd, want ek moet Christine begin voorberei en daar is geen ander geriewe beskikbaar nie.

“Ons kan nie gaan oefen by skole wat wel bane het nie, want dis nie tartan nie.

“Lyk my atletiek is opnuut nie belangrik genoeg vir die beleidmakers en rolspelers in die regering nie. Mense vergeet atletiek het tot dusver nog die grootste roem vir Namibië besorg. Geen ander sport kon nog bereik het wat atletiek behaal het nie. Dit wil vir my voorkom ons (atletiek) is nie belangrik genoeg nie.

“Toe ek aan die stadionbestuurder vra wat die stand van sake is, het hy vir my gesê hy weet nie, maar sy seniors sal sekerlik kan bevestig wat die planne vir die toekoms is. Ek doen maar net wat my instruksies van bo is, was sy antwoord aan my.”

“Gerugte doen die rondte dat die stadion moontlik tot in April vir enige gebruik gesluit gaan wees. Of dit waar is, weet ek nie. In dié stadium is alles vaag en onseker vir ons.

“As ek rêrig nie voor April met Christine kan oefen nie, het ons baie groot moeilikheid. Wie gaan vir die uitgawes betaal om haar in Europa of elders te laat oefen? Sy het nou die groen lig van WA gekry om deel te neem en die oorblywende tyd is bitter min.

“Ek sit ook met Elton Hoeseb wat ongelooflike goeie tye hardloop en ek moet hom vir die komende seisoen begin afrond. As die atlete nie kan oefen nie en ons het nie kompetisies in Namibië nie, waar sal die atlete wat nie kan bekostig om te reis nie dan vir die Spele kwalifiseer?”

Die koerant het wel verneem dat die stadionbestuur met me. Jo-Ann Manuel, direkteur van sport in die ministerie vir sport, jeug en nasionale diens, in kontak was.

Manuel het Botha en Mboma gelukgewens met haar terugkeer en sê sy sien daarna uit om Mboma weer op internasionale vlak in aksie te sien en haar die beste toegewens.

“Die stadionbestuurder was hier en het my sy penarie met almal verduidelik. Ek het aan hom gesê wat hy moet doen en terug gestuur. Ons sal ’n brief skryf met ’n voorstel wat aan al die partye gestuur sal word. Die brief behoort almal aan die einde van die week te bereik,” het Manuel gesê.

Die spesifieke instruksies aan die stadionbestuurder of wat die voorstel behels, was teen gistermiddag nog nie openbare kennis nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!