Mboma op koers vir herontmoeting met Elaine

Statebondspele
Tielman Van Lill
Namibiërs se volle aandag sal môreaand in groot afwagting op die paar oomblikke van Christine Mboma se waarskynlike verskyning in die Statebondspele se medaljefinaal wees.

Die 19-jarige naelloper het gisteroggend in Birmingham heel rustig vir die 200 meter-semifinaal gekwalifiseer, wat vanaand beslis word.

Mboma (baan 6) sal om 21:23 in die tweede (van drie) semifinale teen Wurrie Njadoe (baan 2), Kenisha Phillips (3), Ella Connolly (4), Rhoda Njobvu (5), Hima Das (7) en Milicent Ndoro (8) en Jacent Nyamahunge (9) aantree.

Die toptwee atlete in elke uitdun sal na die finaal vorder, asook die vinnigste twee tye uit die res.

Die Namibiër se wentyd van 23.20 sekondes het sy op ’n drafstap teen 30.9 kilometer per uur behaal, wat nog geensins ’n teken van haar beste peil is nie.

Toe sy die o.20-wêreldrekord verlede jaar tot 21.78 verbeter het, het sy teen 33.05 km/h laat loop. Haar beste tyd vanjaar was in April met 21.87 (32.9 km/h) op die stophorlosie.

Of sy in die semifinale betekenisvol harder gaan druk, is te betwyfel, maar in die finaal sal die vonke sekerlik spat.

Mboma, wat maar eers onlangs herstel het van ’n buigspierbesering hoog op haar regterbobeen, sal in die eindwedloop môreaand waarskynlik ’n herontmoeting hê met Jamaika se formidabele Elaine Thompson-Herah, wat haar verlede jaar in die Olimpiese 200-finaal in Tokio van die goud weerhou het.

Mboma het ná haar uitdun gesê: “Die besering het my steeds sielkundig geaffekteer en daarom het ek die resies baie rustig benader. Die vrees om weer beseer te raak, sal ’n rukkie vat om te verdwyn, maar ná vandag se wedloop voel ek stukke beter.

“Ek sien uit na die finaal, maar en kan nie voorspel of ek in die semifinaal vinniger gaan hardloop nie.”

Gister se vroue 200 meter-uitdunne en kwalifiseerders vir die semifinaal:

Uitdun 1: 1 Christine Mboma 23.20 sekondes (K), 2 Ella Connolly (Australië) 23.56 (K), 3 Milicent Ndoro (Kenia) 24.03 (K), 4 Wurrie Njadoe (Gambië) 24.12 (k).

Uitdun 2:1 Hima Das (Indië) 23.42 (K), 2 Rhoda Njobvu (Zambië) 23.85 (K), 3 Jacent Nyamahunge (Uganda) 24.07 (K).

Uitdun 3: 1 Natalliah Whyte (Jamaika) 23.61 (K), 2 Hannah Brier (Wallis) 24.04 (K), 3 Abi Galpin (Guernsie) 24.47 (K).

Uitdun 4: 1 Favour Ofili (Nigerië) 22.71 (K), 2 Gina Bass (Gambië) 22.87 (K), 3 Asimenye Simwaka (Malawi) 23.28 (K), 4 Veronica Shanti Periera (Singapoer) 23.46 (k), 5 Kenisha Phillips (Guiana) 24.13 (k), 6 Linda Angounou (Kameroen) 24.14 (k).

Uitdun 5: 1 Elaine Thompson-Herah (Jamaika) 22.80 (K), 2 Beth Dobbin (Skotland) 23.10 (K), 3 Jacinta Beecher (Australië) 23.13 (K), 4 Mauricia Prieto (Trinidad en Tobago) 23.69 (k).

Uitdun 6: 1 Natassha McDonald (Kanada) 23.45 (K), 2 Beyonce Defreitas (Maagde-Eilande) 23.99 (K), 3 Toea Wisil (Papoea-Nieu-Guinee) 24.42 (K), 4 Charlotte Wingfield (Malta) 24.47 (k).

• Uit die semifinaliste is die toptien seisoenbeste tye vir 2022 soos volg: 1 Mboma (19 jaar) 21.87; 2 Ofili (19) 21.96; 3 Thompson-Herah (30) 21.97; 4 Dobbin (28) 22.49*; 5 Whyte (24) 22.57; 6 McDonald (25) 22.67*; 7 Beecher (24) 22.70; 8 Bass (27) 22.71; 9 Njadoe (24) 22.90; 10 Connolly (22) 22.95.

PADFIETSRY

In die individuele tydtoetsfinaal het Vera Looser gister gemiddeld teen 38.144 km/h gejaag om 22ste in 45 minute 18.14 sekondes te eindig. Anri Krugel was 29ste in 49:46.28. Een-en-dertig vroue het aan die dissipline deelgeneem.

Goud behoort aan Grace Brown van Australië in 40:05.20 (43.1 km/h), terwyl Anna Henderson van Engeland met 40:38.55 (42.5 km/h) silwer verseker het voor Georgia Williams van Nieu-Seeland in 41:25.27 gewen.

In die mans se tydtoets het Drikus Coetzee sy beste teen die room van die Statebond gelewer en algeheel 32ste met 55:05.94 geëindig.

“Ek het goed begin met die tegniese gedeelte in die eerste helfte van die roete, met die plan om hard te druk wanneer die oop pad aanbreek. Ek het egter ’n ongelukkie beleef en bo-oor my handvatsel geval en moes toe ook my ketting terugsit.

“Ek het darem myself bedaar en weer gefokus en beheer wat ek kon beheer. Eintlik voel ek nou eers opgewarm vir komende Sondag se padresies en ek sien baie daarna uit.”

Rohan Dennis van Australië wen die goud (46:21.24), Fred Wright van Engeland silwer (46:47.52) en Geraint Thomas van Wallis brons in 46:49.73.

Namibië se fietsrygemeenskap is nietemin steeds opgewarm deur Alex Miller se briljante bronsmedalje in Woensdag se bergfietsresies.

Sy eerste medalje in ’n wêreldwye Spele word algemeen as die hoogste prestasie nóg deur ’n Namibiese fietsryer beskryf.

Komende Sondagoggend sal Miller ’n lid van die land se eerste voltallige span wees wat sake in die padfietsresies oor 160 kilometer sal uitspook. Sy spanmaats is Coetzee, Jean-Paul Burger, Xavier Papo en Tristan de Lange.

ROLBAL

Op die rolbalbaan is Cabous Olivier ondanks drie oorwinnings uit vier enkelspelwedstryde uitgeskakel, hoewel hy gister vir Fairul Izwan Abd Muin van Maleisië met 21-12 oorheers het.

Drie spelers het elk met nege punte in groep C geëindig en Olivier was die bitter ongelukkige een wie se aanslag op die rand van die kwarteindronde moes eindig. Die einste Maleisiër eindig met ’n beter punteverskil in die topposisie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!