Meer koppe bymekaar in nuwe NRU-raad
Rugby
Daar was 'n kinkel in die kabel om 'n opvolger vir mnr. Corrie Mensah te vind.
Die Namibië Rugby-unie sal vir die komende maande sy voete moet vind met twee presidente aan die stuur, asook twee visepresidente vir rugbysake, nadat afgelope Saterdag se verkiesing by die buitengewone kongres geen regstreekse wenners vir dié ampte kon oplewer nie.
Mnre. John Walters (68) en Petrie Theron (50) het elkeen vyf stemme op hulle verenig van die tien klubs wat Saterdag as tydig opbetaalde stemgeregtigde lede bevind is.
Nie een van die twee het ook sy nominasie onttrek nie en die vergadering het uiteindelik bekragtig dat die twee gesamentlik as president sal diens doen tot die volgende verkiesing geskied.
Dieselfde patroon is in die verkiesing vir die visepresident vir rugbysake gevolg, waar 5-5 ook nie tussen mnre. Johan Diergaardt (gewese nasionale afrigter en keurder) en Wessel Kotze (gewese nasionale spanbestuurder) kon onderskei nie.
Walters het nie op die koerant se skriftelike versoek op reaksie gereageer nie, maar Theron het sy boodskap aan die rugbygemeenskap soos volg verwoord: “Dis tyd dat ons terugkeer na die waardes waarvoor rugby staan. Integriteit, eerlikheid, goeie sportmangees, respek, vertroue.
“Rugby behoort ’n band te smee tussen alle rugbyspelers waarop hulle ook vir die res van hul lewens die samelewing waarin ons woon, kan dien en bevorder. Ons moet met deursigtigheid gaan besin oor wat ons spelers en rugbypubliek wil hê. Ons het ’n verantwoordelikheid en moet ons sport beskerm en bevorder vir die geslagte ná ons.
“Daar is dringende werk wat gedoen moet word om ons klub- en skolerugby weer gesond en sterk te kry.”
Diergaardt het gesê: “Die gedeelde posisie is bietjie vreemd, maar ek reken nie dit sal ’n permanente instelling wees nie.
“Ek glo ons het genoeg koppe en hande byeen om sinvolle veranderinge aan te bring en elkeen ’n regverdige kans in ons rugby te gee.
“My persoonlike voorneme is om sinvol en positief by te dra sodat mense van elke sfeer van die samelewing ’n plek in die sport kan vind en hul potensiaal kan verwesenlik. Ons wil tog almal sien dat ons rugby vooruitgaan en kompeterend is en ’n goeie beeld uitdra. Spelers se welsyn is vir my die heel belangrikste.”
Mnr. Christie Windvogel is onbestrede as NRU-visepresident vir bestuursake bekragtig.
Geen verteenwoordiger vir ||Kharas is verkies nie, nadat bevind is dat Rosh Pinah-klub nie opbetaal was toe hulle vir Jacques Burger as NRU-raadslid benoem het nie. Die ondersteunende dokumentasie vir mnr. Steve van Wyk (Hardapstreek) was ook nie volledig nie.
Die verteenwoordigers wat wel verkies is, is mnre. Colin Stevens (Erongo), Hermann Rust (Khomas), Apie Oberholzer van Gobabis (Auas), Flip Erasmus (Noorde), Ernest Groenewald (skeidsregters), Ainsley Daniels (skolerugby).
Ingevolge die grondwet sal me. Karen Powell se benoeming as verteenwoordiger vir vrouerugby deur die inkomende raad bekragtig moet word. Die NRU-raad kan ook wel besluit om benoemdes vir die vakante posisies soos die van ||Kharas en Hardap goed te keur.
KORREKSIE
Mnr. Corrie Mensah, wat in Maart as NRU-president bedank het, het gesê ná laas Vrydag se berig moet uitgewys word dat ’n mosie van wantroue inderdaad nie teen hom en sy raad ingedien is nie.
“Daar was alleenlik kennis gegee van ’n voorneme vir ’n mosie van wantroue. ’n Mosie self behels die skriftelike steun van tweederdes van lede, en daar het glad nie ’n mosie teen my gedien nie. Ook was die voorneme sonder enige redes en ek sou dit, wanneer dit ingedien sou word, ook kon teenstaan. Klink maar net daar word gepoog om my te diskrediteer, terwyl ek dink ek het baie opgeoffer vir rugby en ook ’n groot bydrae gemaak tot nuuswaardige berigte vir Republikein gedurende my tyd as president.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie