Meer paaie na motorsport beplan

Motorsport
Brul as jy wil met 'n knortjor.
Tielman Van Lill
Motorsport kon die afgelope jaar weer in meer 87 byeenkomste tussen die Namibiese Motorsportfederasie (NMSF) se onderskeie geaffilieërde klubs die enjins laat dreun, nadat 2020 en 2021 deur Covid 19-inperkings geboelie was.

Die NMSF het twaalf klubs oraloor die land onder sy vlerk, wat tien verskillende kodes insluit. Elkeen het sy eie reëls en regulasies om die verskeie dissiplines glad geolie te hou.

Die gewildste kodes is langbaanrenne, versnelrenne, ovaalbaanrenne (Tony Rust-renbaan), renstelle/knortjorre (Tony Rust, Swakopmund), tydrenne (Swakopmund, Omaruru, Gobabis,Windhoek), motocross (Windhoek, Swakopmund, Gobabis, Omaruru), motorfiets-enduro (Windhoek, Uis) asook tol (spinning) en dryfrenne (drifting).

Bradley Ferreira, NMSF-voorsitter vir renkodes, sê: “GCR’s (algemene kompetisiereëls en -regulasies) is die stel reëls waarvolgens motorsport in geheel beheer word. Elke spesifieke kode se reëls word SSR’s (Standing Supplementary Regulations) genoem om die dissipline en sy lede te lei.”

NUWE LEWE

“Vanjaar het een van die vasbytklubs ook sy terugkeer gemaak en sien uit daar na om soos tevore weer nasionale kompetisies aan te bied. Veldrenklubs (off-road) wil graag volgende jaar ’n reeks as deel van ’n nasionale kampioenskap huisves nadat groot belangstelling ontvang is.

“Verskeie kodes is op die punt om hul 2022 nasionale kampioenskappe te voltooi. Die kodes wat kampioene sal oplewer, is enduro-motorfietse, grondbaan-ovaalrenne, langbaan, motocross, renstelle, tydrenne en tol.”

ONTWIKKELING EN PROJEKTE

“Die NMSF het tans twee projekte aan die gang wat deur die FIA goedgekeur en betaal sal word – die Girls on Track (renstelle) asook e-sport vir elektroniese speletjies.

“Girls on Track fokus daarop om meer vroue na motorsport te lok en behels die soektog na talent oor die land heen. Ons sal na skole in verskeie streke reis waar meisies tussen tien en 18 jaar ná opleiding kans sal kry om in ’n spesiaal ontwerpte renstel te klim en rondtes op ’n slalombaan te ry.

“Indien dié program talent aanwakker, sal ons met die tieners in samewerking met die FIA werk om hulle te ontwikkel. Renstelle is ’n sport op voetsoolvlak en dis duidelik hoe die sport selfvertroue bou en motoriese vaardighede by jongmense verbeter.

“Ons sal ook einde Oktober die Helao Nafidi-ekspo bywoon waar ons renstel- en tol-vertonings gaan hou.

“Die Helao Nafidi-dorpsraad sal jongmense van verskillende skole kies wat daarop gemik is om toekomstige talent te identifiseer, motorvaardighede te ontwikkel en selfvertroue te bou.

“Hoewel ons benadering ’n prettige element het, word aandag aan die reëls ook ingeskerp, aangesien ons ’n balans tussen sport en skool wil bevorder.

“Dit sal die eerste keer wees dat hierdie program in die noordelike streek bekendgestel word.

“Daar is vars nuus op die renstelfront met die bekendstelling van die FIA se Afrika-renstelkampioenskap wat sy debuut in 2023 behoort te maak, asook eerste deelname aan die FIA Rally Star-program.

“Die e-sportprogram sal verskeie renplatforms soos Sim-renne en die gewilde PlayStation-platforms behels. Verskeie speletjies sal gebruik word om ’n dubbele e-sportkampioenskap in Namibië aan te bied sodat die gekwalifiseerde spelers volgende jaar die Wêreldmotorsportspele kan bywoon.

“Sodra geld van die FIA ontvang word, behoort Girls on Track en die e-sportprogram af te skop.”

TALENT

“Vir die NMSF lê die ontwikkeling van motorsport en talent baie na aan die hart. Ons wil nuwe kodes onder een sambreel soos nog nooit tevore bekendstel. Cross Karts is ’n opwindende sport en behoort ná die bekendstelling daarvan in Desember volgende jaar sy weg na Namibië te vind.

“Volgende jaar beloof om opnuut ’n opwindende jaar te wees en ons nooi motorsportentoesiaste hartlik uit om die kompetisies by te woon wat deur die klubs aangebied word.

“Byeenkomste wat die NMSF-logo uitbeeld, is deur die NMSF goedgekeur en het al die vereiste beamptes in plek om die gladde en veilige verloop van die kompetisie te verseker,” het Ferreira gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!