Mensah tree terug, NRU begin nuwe blaadjie
Rugby
Eerder as om in 'n magstryd gewikkel te raak, het die NRU-president en sy direksie gister hul bedanking ingedien.
Andrew Poolman
Ondanks die onbedekte vreugde in sekere kringe waarmee die president van die Namibië Rugby-unie (NRU), mnr. Corrie Mensah, en sy mederaadslede se bedanking sedert gister begroet word, laat dié ingrypende verandering dié sport steeds op die mespunt van ’n leierskapvakuum gebalanseer.
Mensah-hulle het gister onbestrede hul bedankings ingedien nadat ’n groep premierligaklubs ’n mosie van wantroue ingedien het voor die algemene jaarvergadering wat op 26 Maart sou geskied, maar wat nou tot 9 April uitgestel is.
Die direksie het besluit om nie die mosie van wantroue te betwis nie, ter wille van die sport en om skade aan die reputasie en operasionele vereistes te vermy en Namibiese rugby op koers te hou.
Geen verkiesing was bestem om by die jaarvergadering te geskied nie, met die bestaande termyne wat tot 2024 geldig sou wees in ooreenstemming met Wêreldrugby se riglyn om deurlopendheid in unies se topbesture tussen die vierjaar-Wêreldbekersiklusse te verseker. Hierdie bestendigheid is nou versteur, met diegene wat oor die dryfkrag en bewese administratiewe vermoëns vir dié hoogs ondankbare taak het, wat nog in die openbaar hul hande moet opsteek.
Die NRU-raadslede was Mensah, mnre. Walter Don (visepresident vir bestuursake) en Winnie Christiaans (regsake), mee. Julia Shipahu (finansies en oudit), Talitha Jario (vrouerugby) en Juanita Ockhuizen (Hardap-verteenwoordiger), mnre. Elmo Kurz (Erongo-verteenwoordiger en voorsitter vir kompetisies), James Camm (Sentraal, voorsitter vir hoëprestasieprogramme), Ernst Groenewald (skeidsregters) en Steve van Wyk (Noorde).
“Die mosie is tot nou nie op enigewyse gemotiveer nie, maar die direksie het gekies om eerder uit te tree ter wille van die sport, sy reputasie en die spelers wat geraak kan word, sou verdere dispute hieruit ontstaan.
“Die direksie wil graag ’n soortgelyke verlammende situasie vermy wat tans deur ander sportkodes vanweë die verdeeldheid in leierskap ervaar word.
“Ons besluit om dit nie te betwis nie, is ook toe te skryf aan die skade wat reeds aan die direksie se integriteit en vertroue aangerig is. Gevolglik glo ons dit sal nie bevorderlik wees vir die direksie om voort te gaan onder hierdie omstandighede van wantroue en verdeeldheid nie, aangesien daar geen gemeenskaplike grond is nie,” lui hul verklaring.
’n Buitengewone algemene vergadering moet nou belê word met minstens 30 dae kennisgewing en ’n nuwe direksie moet verkies word.
’n Leierskapvakuum gedurende hierdie deurslaggewende tydperk kan Namibië beswaarlik bekostig.
“’n Raad moet in plek wees vir logistieke en finansiële voorbereiding wat vereis word vir die finale Wêreldbeker-kwalifiseringstoernooi wat vir Julie bestem is, waar Namibië vir sy sewende opeenvolgende keer vir die Wêreldbeker wil kwalifiseer.”
JUNIOR SPAN
In hul verklaring word onthul dat ’n uitstaande boete wat Wêreldrugby die NRU opgelê het, betaal óf kwytgeskeld moet word, of andersins ’n slaanstok kan word om Namibië dalk voortydig uit die senior kontinentale WB-uitduntoernooi te boender.
Die boete van 10 400 euro (volgens gister se wisselkoers nagenoeg N$170 000) is opgelê nadat Namibië verlede jaar weens positiewe Covid-gevalle nie sy span na die Barthes o.20-toernooi in Kenia kon stuur nie. Die NRU se verweer dat die wêreldwye pandemie ’n verskynsel buite sy beheer was, het tot dusver nie die beslissing laat omkeer nie.
“Ewe dringend moet ’n raad ook verseker dat daar geen bedreiging is vir die o.20-span se voorbereiding om aan Wêreldrugby se Barthes-toernooi in Kenia mee te ding nie. Die junior span dien as ’n voedingsbron vir die senior nasionale span en ’n voortgesette gebrek aan deelname aan die kompetisie (2020 en 2021 het reeds verlore gegaan) sal die gebrek aan internasionale blootstelling vererger.
“Vertroue is reeds geskend; gevolglik het die direksie besluit om eerder te bedank om die reputasie van die direksie en rugby in die algemeen te beskerm,” lui hul verklaring.
Die direksie verklaar dat hulle nie kan toelaat dat die mosie ’n negatiewe invloed op Namibië se deelname aan die finale Wêreldbeker-kwalifisering het, of om ’n plek in die 2023 Wêreldbeker in Frankryk te verloor weens geskille tussen bestuurslede nie.
SUKSESSE
Mensah se verklaring lys van die suksesse van die NRU tydens sy ampstermyn wat in Julie 2018 begin het, insluitend dat die senior manspan hul eerste kwalifiseringsronde vir 2023 suksesvol voltooi het.
Die span het in November die 2021 Stellenbosch-uitdaagtoernooi gewen deur Kenia en Zimbabwe te klop. Die vroue se nasionale sewesspan het vanjaar ook drie uit vier wedstryde gewen en in die tweede plek by Rugby Afrika se suidelike streektoernooi in Lesotho geëindig.
Wat die hoëprestasieprogram betref, het die NRU verklaar dat alle protokol in plek is en alle aanstellings suksesvol op ’n deursigtige wyse onderneem is.
In pogings om die strewe na goeie bestuur en deursigtigheid te verhoog, het die direksie ’n oudit- en risikokomitee gestig om te verseker dat die begroting vir die beoogde doel bestee word.
Die verklaring stel dit dat die direksie onder Mensah die meeste van die N$5,5 miljoen-skuld wat uit die vorige bedeling geërf is, suksesvol weggewerk het.
Mensah en sy direksie is trots daarop dat ouditeurs die afgelope vier jaar geen vraagtekens oor hul finansiële verslae geplaas het nie.
Die vorige NRU-webwerf is vervang met ’n moderne en meer funksionele een. Hierbenewens word die ontwikkeling uitgelig van ’n rekenaardatabasis wat onder meer spelerprofiele sal insluit.
WEDSTRYDPROGRAM
As deel van die kalender vir 2022 was twee wedstryde vir die senior nasionale mansgroep teen Griekwas geskeduleer vir 26 Maart in Windhoek (dié wedstryd is nou afgelas), asook op 14 Mei in Kimberley.
Die nasionale manssewesspan gaan van 9 tot 11 April in Kampala, Uganda, deelneem en die nasionale vrouespan sal in Junie meeding op ’n plek wat nog bepaal moet word.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie