Die Argentynse sokkerkaptein en superster, Lionel Messi. Foto Getty Images
Die Argentynse sokkerkaptein en superster, Lionel Messi. Foto Getty Images

Messi sê die drie WB-gunstelinge is ...

Sokker
Die Argentynse sokkerster Lionel Messi glo Brasilië, Frankryk en Engeland is die groot gunstelinge om vanjaar se Wêreldbekertoernooi in Katar te wen.

Messi is ’n lid van die Argentynse span, wat self ook beskou word as een van die groot gevaarspanne in dié toernooi wat Sondag afskop.

Die 35-jarige doelskieter van Paris Saint-Germain sal nogmaals al die druk en verwagtinge van die fanatiese Argentynse ondersteuners op sy skouers dra.

“Wanneer ons onderling oor gevaarspanne praat, is dit altyd dieselfde spanne wat ter sprake kom,” sê Messi.

“As ek een span moet uitsonder, dan is dit Brasilië. Ek dink Frankryk en Engeland troon ook ’n bietjie uit bo die res.”

Argentinië het sy laaste 35 wedstryde gewen en is ook oorgehaal vir sukses in dié toernooi.

Messi het in sy roemryke loopbaan omtrent al elke denkbare trofee gewen, maar ’n Wêreldbeker-trofee bly hom nog ontwyk. Vanjaar se toernooi sal moontlik sy laaste kans wees om ’n wennersmedalje te verower.

“Ons is baie opgewonde. Ons het ’n baie lekker groep spelers. Ons gaan klein treetjies gee.

“Ons hoop om die Wêreldbeker-toernooi op die beste moontlike manier te begin. Dan hoe langer jy in die toernooi bly en meer tyd jy op die veld deurbring, hoe meer leer jy oor mekaar,” sê Messi oor hul benadering in Katar.

Die Suid-Amerikaanse kampioen hoop om sy derde WB-toernooi te wen nadat hy in 1978 en 1986 sukses behaal het.

Lionel Scaloni, Argentinië se afrigter, het gesê Messi gaan ’n sleutelrol speel.

“Ek glo hy is altyd oorgehaal vir ’n Wêreldbeker-toernooi en weet hoe om dit te geniet,” sê Scaloni.

“Hy weet hoe om te speel as hy dié hemp oor sy kop trek. Hy geniet sy spanmaats, die oefensessies ... eintlik die hele proses.”

“Daar is geen ander span met so ’n speler in sy geledere nie. Dit gaan egter afhang van wat elke wedstryd vereis,” sê Scaloni.

Messi se span begin Dinsdag sy aanslag teen Saoedi-Arabië.

Sy ander teenstanders in groep C is Mexiko en Pole.

– Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer