Meuwesen behou sy wêreldkroon

Boogskiet
Vreemde toestande in Estland kon nie die skerpskutter van die Namibiese kusdorpie keer nie.
Tielman Van Lill
Jannie Meuwesen van Lüderitz het by die wêreldveldboogkampioenskap in Estland daarin geslaag om vir die tweede keer opeenvolgens as wêreldkampioen in die onbeperkte vrystyl-afdeling bekroon te word.

Meuwesen het sy eerste wêreldtitel in 2018 in Potchefstroom beklink – ’n prestasie wat hom die toekenning as Namibië se sportman van die jaar besorg het.

Die 42-jarige boorling van Keetmanshoop se vernuf is uitsonderlik vir iemand wat eers in 2017 sy kompeterende aandag op boogskiet begin instel het – aanvanklik gebore uit sy belangstelling om dit in die jagveld in te span.

Die tweejaarlikse wêreldkampioenskap kon nie in 2020 aangebied word nie en is tot vanjaar uitgestel. Die volgende een is vir 2024 in Brasilië geskeduleer.

Die kampioenskap is oor vyf dae met verskillende tegniese bane en afdelings beslis, wat tegnies baie uitdagend in die digte woud was. Hoë lugvogtigheid, reën en ’n knaende wind was deel van die wêreld se beste skutters se uitdaging.

Meuwesen het van Maandag tot Vrydag sy stempel afgedruk en met ’n totaal van 2 755 punte gewen. Sébastien Clapié van Frankryk het wel Maandag Meuwesen se telling van 548 geëwenaar, maar het in die volgende vier dae met 20 punte agter geraak om tweede te eindig. Mika Rutonen van Finland raap die bronsmedalje met 2 705 op.

Van sy Namibiese spanmaats het Henk van Blerk die sesde posisie (2 622) in die onbeperkte jagboog- en Beanta Viviers die agtste plek (2 541) in die onbeperkte vrystyl-afdeling teen die room van die wêreld behaal.

Die trio sê in ’n nuusverklaring: “Ons reis by die wêreldkampioenskap in Estland het tot ’n einde gekom. Die kompetisie was aangebied in toestande waaraan ons nie by die huis gewoond is nie. Ons het reën en humiditeit gehad om by aan te pas wat jou pyle meer in die wind laat dryf het.

“Die eerste dag het reënerig begin, maar in geheel was die weer oor die vyf dae gunstig om in te skiet. Die skietbane was baie mooi, maar redelik tegnies in digte woud met bloubessies oral en dik mos op die grond.

“Ons wil almal tuis vir hul ondersteuning bedank;, dit het regtig die verskil gemaak.”

Die volgende internasionale kompetisie vir die Namibiërs is volgende jaar wanneer die Afrika-streekkampioenskap in veldboogskiet plaaslik aangebied word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!