Miller en Hahn by Wêreldbeker
Bergfietsry
Alex Miller (elite mans) en Hugo Hahn (o.23-mans) is die twee Namibiërs wat die UCI se spoggerige Wêreldbeker-bergfietsbyeenkoms in die skivakansieoord Lenzerheide in die Switserse Alpe bywoon. Vanweë die kronkelrige uitleg van die baan is ’n gunstige wegspringroete van deurslaggewende belang en omdat Miller geen posisie op die Wêreldbekerreeks se ranglys beklee nie en dus nie in een van die voorste tien wegspringrye geplaas is nie, kan die gewese Afrika-kampioen ná die eerste baanrondte reeds meer as drie minute agter die voorlopers wees. Net om dus die volle sewe baanrondtes te voltooi sonder om onttrek te word, sal dus ’n bomenslike poging verg. In die voorste wegspringgroepe is boonop ysters in die WB-reeks se toptien soos Nino Schurter (nr. 3) en nog van sy Switserse landgenote; Frankryk se Joshua Dubau (tweede) en Jordan Sarrou (vierde) en Luca Schwartzbauer (Duitsland, vyfde), in vergelyking met byvoorbeeld Suid-Afrika se Alan Hatherly (14de). Die elite mansresies het 115 inskrywings van 32 lande. Die Wêreldbeker begin met die kortbaanresiese vandag en gisteraand (insluitend Hahn se o.23’s); die afdraandresiese vandag en môre, voor die Olimpiese veldresiese Sondag. Hahn se o.23-mansresies begin om 10:30, voor die elite mans die skouspel vanaf 15:30 afsluit.
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie