Miller verheug oor Attakwas-titel

Bergfietsry
Andrew Poolman
Alex Miller word steeds al hoe beter en sy oorwinning in Saterdag se 2024 Momentum Medical Scheme Attakwas Extreme, aangebied deur Biogen, dien bloot as die nuutste bewys.

Die 23-jarige Namibiër het die resies oor 121 kilometer naby Oudtshoorn met meer as twee minute teen Suid-Afrika se topryers soos Matt Beers en Marco Joubert gewen.

Die Attakwas Extreme, met die bynaam “Hel in die Suide”, word allerweë as Suid-Afrika se taaiste eendaagse bergfietsresies bestempel. Die roete sluit klimwerk van sowat 2 900 meter in.

Versengende hitte sedert Vrydag het gelei tot ’n verpligte gereguleerde minimum vloeistofinname vir alle ryers.

Vir die vroeë gedeeltes deur die Klein-Karoo was die toestande heel aangenaam, maar ryers was nietemin versigtig om hulself nie vroeg al hard te druk nie.

Die groterige groep vooraan het dus eers ná die tweede waterpunt (46 km) uitmekaar begin spat.

Joubert het agterna gesê: “Ek reken Alex was die hele dag die sterkste ryer. Hy het die tempo hoër gedruk ná die derde waterpunt.”

Miller het gesê hy het sterk genoeg gevoel om die hele resies aan te pak teen ’n pas waarteen hy gemaklik gevoel het.

Ná 90 km was Miller en verlede jaar se wenner, Matt Beers, die voorlopers met Pieter du Toit sowat twee minute agter hulle.

Die taaiste klimdeel van die tweede helfte van die roete was ’n keerpunt, waar Miller sy stryd teen Beers en Joubert gewen het. Die Namibiër het die laaste waterpunt bereik met ’n kussing van 30 sekondes – waar hy ook veel minder tyd bestee het deur bloot water oor sy kop uit te gooi voor hy weer terug op die pedale geklim het.

By die wenstreep het die Namibiër vir ’n wyle sy fiets bo sy kop uitgelig om sy blydskap te toon.

“Al het ek geweet ek het ’n goeie voorsprong, was ek nogtans bekommerd oor die laaste kilometers,” het Miller erken. “Die laaste klim het goed verloop, maar ek was bietjie bekommerd op die plat paaie. Matt is so sterk op die vlaktes, so ek was nie selfversekerd totdat ek die eindstreep kon sien nie.

“Ek het die Attakwas Extreme reeds twee keer tevore gery en beide kere het ek in die finale resies na die eindstreep verloor. Om vanjaar te wen, beteken dus baie. Op ’n nuwe span (Toyota Specialized) en op ’n nuwe fiets. Dis ’n goeie manier om die jaar te begin!” het Miller agterna met ’n glimlag gesê.

UITSLAE, 2024 Momentum Medical Scheme Attakwas Extreme, topvyf mans:

1 Alex Miller (Namibië), Toyota Specialized) 4:49:22

2 Matt Beers (RSA, Toyota Specialized) 4:51:47 | +2:25

3 Marco Joubert (RSA, Imbuko Pro Cycling) 4:53:58 | +4:36

4 Wessel Botha (RSA, Imbuko Pro Cycling) 4:58:34 | +9:12

5 Pieter du Toit (RSA, PYGA Euro Steel) 5:03:04 | +13:42

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!