Miller vooraan resies deur veld

Veldwedloop
Op ’n koel Saterdagoggend het meer as 140 deelnemers gretig hul drafskoene vasgeknoop vir die derde Trail Run aangebied by die Moonraker Outdoor Adventure Restcamp.

Die eerste wegspringgroep om 06:30 was die 20 km-hardlopers in die Gondwana Moonraker Ridge Trail Run, wat kort daarna deur die deelnemers in die 10 km en 5 km gevolg is.

Onder die tema “Gondwana Goes Bananas” is piesangs in oorvloed by die prettige en feestelike atmosfeer van die byeenkoms gevoeg.

Thomas Miller (ouer broer van die Olimpiese bergfietsryer en Statebondspele-medaljewenner Alex Miller) was in ’n indrukwekkende 1:31:33 eerste oor die eindstreep in die 20 km mansresies, met Pierre van Rensburg tweede en Ewie Loubser derde.

Die 20 km vrouewenner Risa Dreyer Burger is geen onbekende in uithousport nie, net soos Marietjie de Chavonnes-Vrugt (tweede). Derde was Jamie Vinson.

Die 10 km manswenners was Josia Kalwenya (eerste) en sy pa Martin Kalwenya, met Olavi Uushona derde. Helena Iipinge was die vrouewenner, met Anne Schaarrenbroich en Francesca Annese-Mouton ook in die topdrie.

Die Moonraker Ridge Trail Run is deel van die groter reeks Gondwana Adventure-byeenkomste, insluitend die Moon Valley Marathon wat vir 29 Maart 2024 geskeduleer is.

Familie en vriende het agterna gesellig verkeer rondom ’n spitbraai-middagete. Vir die jonger besoekers was die plaasdiere ’n hoogtepunt van die dag.

Die organiseerders spreek waardering uit teenoor die borge van die byeenkoms, by name King Price Insurance, Nova 103.5, StaminoGro, Norflex Gel en OSH-Med International, tesame met ruim bydrae van Checkers, Namibië Brouerye en Coca-Cola.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer