• Tuisblad
  • Sport
  • Moenie te veel lees in belyningskampe – Nienaber

Die belowende Bulle-agtsteman Elrigh Louw en slot Ruan Nortjé (regs) is twee van die nuwelinge wat na die Springbokke se eer­ste belynings­kamp genooi is. Foto Gallo Images
Die belowende Bulle-agtsteman Elrigh Louw en slot Ruan Nortjé (regs) is twee van die nuwelinge wat na die Springbokke se eer­ste belynings­kamp genooi is. Foto Gallo Images

Moenie te veel lees in belyningskampe – Nienaber

Rugby
Cobus Claassen
Cobus Claassen

Veral in Kaapse rugbykringe word in ongeloof kop geskud oor die Bulle-agtsteman Elrigh Louw wat bo die Stormers se Evan Roos na die Springbokke se belyningskamp in Durban genooi is.

Die ongeloof is te verstane, gegewe Roos se sterk vertoning in die Verenigde Rugbykampioen­skap (VRK).

Die eerste van twee Bok-belyningskampe het gistermiddag in Durban begin en duur tot Dinsdag.

Jacques Nienaber, die Springbok-afrigter, het gister in reaksie gesê ’n belyningskamp is presies dít en daar is nog nie ’n Bok-groep of -span gekies nie.

Die groep vir die toetsreeks teen Wallis in Julie sal na verwagting eers teen die einde van Mei of nader aan die einde van die VRK gekies word.

“Hierdie is eenvoudig ’n kamp waarna sekere individue genooi word. “Wanneer ons spelers nooi, is dit 80% generies, maar soms nooi ons spelers omdat daar spesifieke dinge is wat ons met daardie speler wil belyn.”

Louw is Durban toe genooi, maar Roos en die Bulle-kaptein, Marcell Coetzee, nie.

Nienaber benadruk daar moenie te veel daarin gelees word nie.

“Spelers wat na die eerste kamp toe genooi is, sal nie outomaties ook die volgende een (in Kaapstad van 1 tot 5 Mei) bywoon nie.

“Dit beteken ook nie jy gaan gekies word vir die toetse teen Wallis nie.”

Die Bok-breier het gesê dis moeilik om ’n Springbok te word en het na Duane Vermeulen verwys wat eers op 26-jarige ouderdom sy eerste toets gespeel het.

“Dis regtig nie maklik nie. As jy byvoorbeeld kyk na ons slotte: Eben Etzebeth, Lood de Jager, RG Snyman en Franco Mostert is almal spelers wat nog baie rugby in hulle oor het.

“’n Opkomende slot wat vir die Bokke wil speel, sal sy kans moet afwag. Jy moet volhard en aanhou veg vir ’n plek.”

Dit beteken allermins nie daar is geen hoop om vir die wêreldkampioen te speel nie, sê Nienaber.

“Soms werk dinge vir jou uit en Jasper Wiese is ’n goeie voorbeeld.

“Duane was verlede seisoen ons eerste keuse en toe is hy beseer. Ons het na Kwagga (Smith) gekyk as ’n opvolger vir hom, maar hy het die nr. 7-rol gekry nadat Pieter-Steph du Toit ook ’n besering opgedoen het.

“Ook Dan du Preez was in die wedloop, maar hy het toe Covid gekry.

GRYP ELKE KANS

“Jasper het in die sameloop hiervan ’n kans teen die Britse en Ierse Leeus gekry en hy het dit met albei hande aangegryp.

“Hy is vanjaar ’n speler wat ouens soos Duane die hele tyd moet laat voel hulle plek in die span word bedreig. Ons soek daardie wedywering.”

Buiten Vermeulen, Du Toit, Smith, Wiese, Du Preez en die Bok-kaptein, Siya Kolisi, staan ander losvoorspelers soos Marco van Staden, Jean-Luc du Preez en waarskynlik ook Rynhardt Elstadt voor Louw en Roos in die ry.

Nienaber sê hy is nie seker hoe die 20 spelers wat na Durban genooi is se name uitgelek het nie.

“Ons wil nie eintlik die name noem nie, omdat dit nie ’n Springbok-groep is nie.

“Die laaste ding wat ek wil hê, is dat die spelers wat nie hier is nie, moet dink ons stel nie in hulle belang nie. “Die kans is daar dat hy na die volgende een genooi kan word of wel vanjaar vir die Bokke kan speel.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!