Handre Pollard. Foto Getty Images
Handre Pollard. Foto Getty Images

Morné: ‘Ek sou met Handré begin’

WB-rugby
Cobus Claassen
As dit van die voormalige Springbok-skerpskutter Morné Steyn afhang, begin Handré Pollard beslis Saterdagaand in Parys in die nr. 10-trui vir die Springbokke.

Want in ’n eindstryd is elke punt goud werd, sê Steyn, wat naas Percy Montgomery die voorste puntemaker in die annale van Suid-Afrikaanse toetsrugby is.

“Dis ’n moeilike een. Dit het die laaste tyd vir die Bokke gewerk om met Manie (Libbok) te begin en later vir Handré op te bring,” sê hy.

“Ek dink net in ’n eindstryd wil jy jou voorste stelskopper van die begin af op die veld hê. As Handré in die beginspan gekies word, verwag ek dat die Bokke meer takties sal speel en die All Blacks in hul halfgebied onder druk sal probeer plaas.”

Steyn, wat vroeër vanjaar ná ’n beroepsloopbaan van 20 seisoene – en 68 toetse – uitgetree het, sê Engeland het Saterdag in die halfeindstryd vir 60 minute “takties reg gespeel” teen Suid-Afrika.

“Hulle het die Bokke in die hoeke vasgedruk en het nie toegelaat dat ons pak momentum kry nie. Dis die ideale bloudruk vir Saterdag. Die wekroep wat ons teen die Engelse gekry het, was dalk ’n goeie ding.”

Hy was verras om te sien hoe die All Blacks in die opbou en aan die begin van die Wêreldbeker (WB)-toernooi gesukkel het.

Die Kiwi’s het in hul laaste opwarmingstryd voor die toernooi ’n ontnugtering teen die Springbokke gekry toe hulle op Twickenham met 35-7 slae gegee is.

Frankryk het Nieu-Seeland daarna met 27-13 in die spanne se openingswedstryd geklop.

“Ek het die All Blacks nog nooit so sien speel nie. Hul dissipline was swak en dit het nie gelyk asof hulle naby aan die eindstryd gaan kom nie. Dit lyk egter asof hulle op die regte tyd hul beste spelpeil bereik en dit gaan moeilik wees om hulle te klop nadat almal hulle afgeskryf het.”

Steyn voorspel nietemin die Bokke sal vir nog vier jaar die wêreldkampioen wees “as hulle speel soos hulle kan”.

“Ons het ongelooflike spelers op die bank en het Saterdag weer gesien hoe groot Ox (Nche), Kwagga (Smith) en RG (Snyman) se impak in die tweede helfte was,” sê Steyn.

“As die manne wat in die agttal begin dit regkry om die All Blacks te boelie, gaan ons moeilik geklop word wanneer Ox- en Kwagga-hulle opgestuur word. Ek is baie positief en glo ons kan dié keer met meer as ’n punt wen.”

• Sou Pollard wel Saterdag teen die Kiwi’s speel, sal hy verby Steyn as die mees ervare Springbok-losskakel van alle tye skuif.

Pollard het teen Engeland in sy 68ste toets gespeel.

Frans Steyn (78) en Ruan Pienaar (88) het in meer toetse gespeel, maar het in verskeie ander posisies in die agterlyn uitgedraf.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!