MTC NamLAN groter as ooit!

e-Sport
Die Namibiese Elektroniese Sportvereniging (Nesa) se jaarlikse spoggeleentheid, die MTC NamLAN – LAN van die Brave, begin vandag en duur tot Sondag.

MTC NamLAN 2022 open vandag om 17:00 by die SKW-saal en is oop vir die publiek.

Of jy wil veg, resies jaag of sokker speel – die titels van speletjies bied ’n wye verskeidenheid: Apex Legends, Call of Duty: Mobile, Counter-Strike: Global Offensive, Tekken 7, eFootball 2023, Assetto Corsa, Mobile Legends: Bang Bang en Defense of the Ancients 2.

NamLAN het in 2008 ontstaan as ’n skepping van Louis van der Merwe en Jonel van Schalkwyk. Dit was ’n ope geleentheid vir diegene wat in elektroniese speletjies belangstel om bymekaar te kom en ander te ontmoet wat dié belangstelling deel, terwyl hulle individueel of in spanne om pryse meeding.

Jonel en Louis, saam met Kai Eysselein en Brendan Ihmig, het die Namibiese Elektroniese Sportvereniging in 2009 gestig, wat die volgende jaar amptelik deur die Namibiese Sportkommissie erken is. Sedertdien is Nesa elke jaar in beheer van die aanbieding van NamLAN.

In 2020 en 2021 is NamLAN net aanlyn aangebied en gevolglik was daardie belangrike sosiale element afwesig wat dit tevore so gewild gemaak het. Vorige jare het mense van oraloor Namibië saamgekom en saam gespeel.

Ten spyte hiervan het die jaarlikse NamLAN steeds in gewildheid gegroei saam met die toeganklikheid van speletjies vir meer mense van elke demografie.

Geïnspireer deur internasionale e-sportfederasies, word nuwer speletjieplatforms alledaags in die professionele arena. Mobiele toestelle, rentuie en konsoles is nou aanvullend tot die tradisioneel rekenaar-gefokusde bedryf. Dit laat veel meer mense toe om te speel en mee te ding met die toerusting waarmee hulle vertroud is, in die speletjies wat hulle geniet.

Vanjaar, grootliks danksy Nesa se borge – MTC, Logitech, Nanodog en Switch – asook ’n merkwaardige span vrywilligers, maak die MTC NamLAN ’n merkwaardige terugkeer na ’n fisiese samekoms om daardie sosiale aspek te omhels.

Nesa het geldelik en andersins aansienlike beleggings gemaak in hierdie meerdaagse kompetisie om dit vir soveel mense as moontlik toeganklik te maak.

Enigiemand kan aanmeld om in die pret te deel, en die koste is minimaal. Om te registreer, navigeer bloot na nesaportal.org en voltooi die aansoekvorm, en sodra dit aanvaar is, betaal die N$100 vir amptelike Nesa-lidmaatskap.

Sodra jy ’n lid is, kan jy op die portaal by die geleentheid aanmeld en die speletjies kies waaraan jy wil deelneem.

Kommentaar

Republikein 2025-04-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer