Mwiya sleep minister hof toe

Sportkommissie in duister gelaat
Tielman van Lill
Nadat minister Agnes Tjongarero van sport, jeug en nasionale diens se summiere aankondiging Dinsdag dat al agt raadslede van die Namibiese Sportkommissie (NSC) met onmiddellike effek van hul poste onthef word, word sy vandag in ’n dringende hofaansoek uitgedaag.

Die agt kommissarisse wat volgens haar weier om opdragte uit te voer, is Joel Matheus (voorsitter), Erica Beukes, Alna Similo, Karen Mubonenwa, Thomas Mbeeli, dr. Marius Johannes, Nicklaus Ngumono en Linda Chicalu.

Die ingryping deur Tjongarero volg nadat mnr. Freddy Mwiya vandeesmaand opnuut deur dié raad vir ’n derde termyn van vyf jaar as die NSC se hoofadministrateur aangestel is.

Tjongarero het druk toegepas dat Mwiya se pos geadverteer moet word, maar die raad het met ses stemme teen twee besluit om hom weer aan te stel.

Mnr. Joel Matheus, voorsitter van die NSC-raad, het in mediaberigte gesê die raad is nie gekant teen die minister se aanbeveling nie, maar die raad reken hulle beskik oor die mandaat om vir die minister aan te beveel wie as hoofadministrateur aangestel moet word.

Volgens Matheus en sy raad is die minister se magte beperk en kan sy bloot die aanstelling bekragtig. Die raad en ’n onafhanklike konsultant was beide ook tevrede met Mwiya se merietebeoordeling.

Tjongarero sê Dinsdag in haar skrywe aan Matheus: “Mwiya se termyn het op 31 Maart 2022 verstryk. Ek het aan jou op 21 Oktober 2021 geskryf en gevra dat jy hom daarvan sal inlig.

“Ek het op 21 April 2022 weer ’n skrywe aan jou gerig waar ek gevra het die pos moet vir belangstellende Namibiërs geadverteer word sodat hulle aansoek kan doen. Ek het jou toe ook vir ’n naam van ’n persoon gevra wat as tussentydse hoofadministrateur kan dien tot ’n nuwe aanstelling gedoen word.

“Sedertdien het ek vergeefs gewag vir die naam van die benoemde persoon en dat die pos geadverteer word. Al my skrywes dui daarop dat die ministerie wat die aanstelling moet doen, nie die heraanstelling van Mwiya ondersteun nie.

“Interessant genoeg het die kommissie verkies dat Mwiya mag voortgaan met amptelike take as hoofadministrateur, strydig met my opdrag.

“Op 20 Mei 2022 verklaar jy in ’n skrywe eensydig ’n dispuut waar daar nie een was nie. Ek het dit baie duidelik gestel dat Mwiya se kontrak nie weer hernu kan word nie

“Die onvermoë van die NSC om aan my versoeke te voldoen, is niks nuuts nie. Die salarisverhoging van Mwiya was ongemagtig en is so deur die kantoor van die Prokureur-generaal bevestig. Die NSC is deur my kantoor opdrag gegee om sy ongemagtigde salarisverhoging om te keer, maar my opdrag is eenvoudig geïgnoreer.

“Hierdie is net een van talle voorbeelde waar die NSC nie opdragte uitgevoer het of volgens die wet opgetree het nie. Ek het dus geen ander keuse as om die hele raad volgens Bepaling (7) (2) (b) van die Namibiese Sportwet van 2003 van hul pligte te onthef nie.”

Matheus en sy raad was veronderstel om Dinsdag alle dokumentasie, voertuie asook kantoormeubels en toerusting aan mnr. Irvine Ndjavera, waarnemende direkteur van sport, oorhandig.

MWIYA TEEN TJONGARERO

Mwiya het intussen op 18 Mei 2022 ’n brief van sy prokureur aan Tjongarero gerig wat haar daarop wys dat sy verkeerd gehandel het.

“Ons het ’n brief aan haar gerig om die Sportwet aan haar te verduidelik, want sy verstaan nie hoe dit werk nie,” het Mwiya aan Republikein gesê.

Sy het nie op die skrywe gereageer nie en Mwiya het ’n dringende aansoek aan die hoërhof gerig. Volgens Mwiya sal hy en Tjongarero vandag in die hof wees.

Mnr. Ndeli Ndaitwah van Ndaitwah Legal Practitioners skryf: “Ons kliënt was vir vyf jaar as die hoofadministrateur van die Namibiese Sportkommissie aangestel. Die periode begin op 1 April 2022 en eindig op 31 Maart 2022 (sic).

Volgens Ndaitwah het Tjongarero verskeie wetsbepalings met die heraanstelling van Mwiya verontagsaam. Volgens artikel 23 (1) en (8) van die Sportwet 12 van 2003 “moet” die minister ’n aanstelling op aanbeveling van die raad doen.

Hy sê: “Die woord MOET gee jou kantoor nie ’n opsie nie. “

Mwiya versoek dat die hof Tjongarero se besluit ter syde stel en dat hy in sy pos aanbly totdat die hofuitslag beslis word. Tjongarero was tot Maandag 23 Mei kans gegee om op Ndaitwah se skrywe te reageer, wat sy nie gedoen het nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!