’n Dag om te vergeet ... of te onthou

Skolerugby
Andrew Poolman
Vir Namibië was gister ’n dag om te vergeet by beide die onder 16 Grant Khomo-, sowel as die o.13 Cravenweek-rugbytoernooie.

Vir die betrokke spelers en afrigters is egter in beide gevalle ’n paar genadelose lesse uitgedeel wat hulle in die toekoms goed te pas kan kom.

Die o.16’s het ’n nederlaag met 25-0 teen Griekwas gely toe hulle nie kon aanpas by die gladde, modderige oppervlak van die veld wat ná oornagreën voor die derde wedstryddag op die Hoër Landbouskool Boland in die Paarl vinnig agteruitgegaan het nie.

Ná hul oorwinnings dié week teen Grens Platteland (45-19) en Zimbabwe (12-10), het die o.16’s hard probeer en kortstondig belowende opbouwerk gedoen, maar is genadeloos gestraf deur Griekwas wat meer doeltreffend was om die onvermydelike foute met hul taktiese skopwerk af te dwing.

Die Namibiërs was effens traag om aan te pas vanaf hul aanvanklike benadering om die glibberige bal te probeer aangee om in die wyer kanale aan te val, ondanks die bedrieglike toestande.

Dit was die laaste wedstryd vir afrigter Jan Dames se span by die jaarlikse toernooi wat blootstelling bied aan opkomende skoolseuns op hul pad na uiteindelike o.18 Cravenweek en o.18 Akademieweek.

• In Pietermaritzburg het die laerskoolseuns hul volksliedere gesing voor die tradisionele o.13 Cravenweek-kragmeting tussen Namibië en Zimbabwe.

Net twee minute ná die afskop het Zimbabwe se agtsteman sy stempel afgedruk met ’n merkwaardige solodrie. Agter die eerste skrum op sy eie 10-meterlyn het hy die bal opgetel, die steelkantflank weggestamp, die vleuel met spoed aan die buitekant geklop en pale toe genael sonder dat ’n hand op hom gelê is.

Zimbabwe, wat rustyd met 12-3 voor was, het vier drieë gedruk en met 24-13 gewen. Namibië, wat beter in die skrums gevaar het, kon net antwoord met drieë deur regtervleuel Keanan Abraham en slot Stefan Kruger, asook ’n strafdoel deur die senter Le-Roy Basson.

Die o.13’s speel vandag hul laaste wedstryd teen ’n opponent wat gisteraand aangewys sou word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!