’n Finaal wat van seuns manne maak

Skolerugby
Andrew Poolman
Terwyl Schoemans-groep Windhoek Gimnasium se eerstespanafrigter Janneman Brand sy wedstrydgroep onveranderd kon hou wat laas naweek deurgeseil het na môre se nasionale skolerugby-eindstryd, moes sy eweknie Johan Zaayman vir die soveelste keer planne maak om aan te pas.

’n Slot wat na binnesenter verskuif, gebeur beslis nie aldag nie, maar dit is wat Zaayman môre met Ben Burger doen, ná die fratsbesering van Jonathan Hanekom (Namibië o.20 vanjaar), wat laas naweek in die opwarming net voor die afskop van die semifinaal teen Samsung WHS sy knieligamente geskeur het.

Zaayman en sy mede-afrigter Herman Lintvelt (die heersende wenkombinasie ná die twee laaste pre-Covid-eindstryde in 2018 en 2019) maak geen geheim van hul hoë dunk van Burger se vermoëns nie.

“Ben het die seisoen op haker begin, later agtsteman en flank, toe senter gespeel en losskakel by die sewes en laas naweek slot (toe WHS met 21-20 uitgeskakel is). Hy dra die bal soos ’n losvoorspeler, maar kan ook versprei soos enige senter,” sê Zaayman.

“Dis dalk nie ideaal nie, maar ons is al half gewoond – ek kon nie nog nie in twee opeenvolgende wedstryde vanjaar dieselfde senters of skakelpaar behou nie.”

Die afrigter sê Fanus Jurgens se terugkeer as skrumskakel bring sy spoed op die aanval en goeie organisering van die verdediging terug. Dit kan nodig wees teen die onoorwonne Gimnasium-span wat vanjaar slim afwisseling van sy aanvalspunte ingespan het en nie net op sy vinnige agterste driehoek of sterk lynstaandrywe staatmaak nie.

Die grote Herman Coetzee begin weer in Gimnasium se 3-trui, hoewel hy in die sege met 50-8 teen OK Foods Moria nie lank gespeel het met sy vorige enkelbesering nie.

“Daai is ’n goeie vraag,” was Zaayman se peinsende antwoord oor watter skool tans die swaarder agttal het. “Kyle van Wyk (heelwat ligter as Coetzee) is ewe goed en Gimnasium verloor niks wanneer hy opkom nie.”

Windhoek Affies: 15 André Siepker, 14 Nico Tromp, 13 Theunis van Wyk, 12 Ben Burger, 11 Jandre Esterhuizen, 10 Van der Merwe Tromp, 9 Fanus Jurgens, 8 Heinrich Geldenhuys, 7 Winslow Olivier (kaptein), 6 SG Maritz, 5 Jandré Brandt, 4 Walther Otto, 3 Johan Mouton, 2 Delano van den Berg, 1 Gianluca Savoldelli.

Reserwes: Lian Vlok, Christiaan Liebenberg, Magnus du Toit,Willem Wessels, Giann Smith, Liam van Rooyen, Ruan Janse van Rensburg, JP Rix.

WIL NET SPEEL

Vanweë die onbeskikbaarheid van die Hage Geingob-stadium weens die Burna Boy-optrede, asook WHS Vegkop waar Fatman optree, moes administrateurs dié week bietjie toutrek agter die skerms voordat bevestig is dat die eindstryde van alle ouderdomsgroepe by die hoofveld van Windhoek Gimnasium beslis word.

Windhoek Affies wou aanvanklik teëskop om op die kunsmatige oppervlak te moet speel, waar (sonder Hanekom) net een huidige WAP-speler glo in 2019 laas tevore gespeel het.

“Maar toe ons die seuns vra of hulle daar wil speel, het hulle dadelik ja gesê. So, toe besluit ons maar, hou die volwassenes uit die besluit en laat die manne speel,” sê Zaayman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer