Namibië vierde ter wêreld by IESF

Tanja Bause
Vyf jong vroue van Namibië het die vierde plek by die Internasionale Elektroniese Sportfederasie (IESF) se 2022 wêreldkampioenskap in Bali behaal.

Die span het bestaan uit Anuska van Schalkwyk (25), Lu-Maè Steyn (24), Nicole Wille (24) en Janke Fourie (25) met Maja Carstens (26).

Dis die 14de keer dat die kampioenskap gehou is en die eerste keer dat vroue vir deelname ingesluit is. Altesame 105 lande met 700 atlete het deelgeneem. Namibië, Nigerië, Senegal en Burkina Faso was die lande uit Afrika wat deelgeneem het.

Namibië het vyf spanne gestuur, naamlik in die vegspeletjies CounterStrike:GO (mans en vroue), Mobile Legends, Tekken7 asook eFootball.

Die spanne het op 28 November na Bali in Indonesië gevlieg en volgens Ansie Hart was daar met die aankoms op die lughawe en by die hotel ’n klomp TV-kameras om hulle te verwelkom.

“Dis die eerste keer dat vrouespanne aan die internasionale kampioenskap kon deelneem en hulle is omtrent op die hande gedra,” het sy gesê.

Janke Fourie sê sy het baie van die ander deelnemers geleer.

“Ek het dit baie geniet. Nou moet ek net meer speel en baie meer oefen sodat ek op hulle vlak kan kom.”

Lu-Maè Steyn is baie trots op haar spanmaats en kan nie wag om volgende jaar weer die wêreld aan te pak en Namibië se naam hoog te hou nie.

“Dit was taai om teen mense van oor die hele wêreld mee te ding, maar die meisies het uit hul doppe geklim en alles gegee. Hulle het baie goed gevaar en hopelik is ons volgende jaar weer daar en vaar nog beter.”

Ook Anuska van Schalkwyk sien uit om haar land weer te verteenwoordig en om volgende keer eerste te eindig.

Maja Carstens is ook dankbaar dat hulle die geleentheid gekry het om Bali en sy ryk kultuur te beleef.

“Ons het nie net gespeel nie, ons kon ook die wondere van Bali beleef.”

In die vrouekategorie was Pole eerste, gevolg deur Argentinië en Indonesië (derde).

Hart, Anuska se ma, sê sy sal nou haar dogter en spanmaats aanpor om te speel. Op die manier weet sy waar haar kinders is, naamlik voor die rekenaar.

“Al die jare van ‘speel julle al weer games, julle sit net en speel die heeltyd games’ het nou eindelik vrugte afgewerp en ek is ontsettend trots. Nou moet hulle vir volgende jaar se kampioenskap in Roemenië oefen.

“Wat dit ook besonders maak, is dat die meisies oraloor Namibië woon en hulle kon net so een of twee keer ’n week oefen. Elkeen by haar eie huis. Hulle het hul daaglikse programme so uitgewerk om oefentyd saam met die span in te werk. Dan het hulle op dieselfde tyd gespeel, strategieë uitgewerk en met mekaar gepraat,” het Ansie gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!